Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Kaapstad sê ‘ja’ vir 2 100 nuwe swembaddens
Die Kaapse metroraad het Donderdag bevestig dat hy aansoeke om meer as 2 000 swembaddens in Kaapstad te bou sedert Januarie al goedgekeur het. Foto: Mlungisi Louw

Die Kaapse metroraad het sedert Januarie meer as 2 000 aansoeke om swembaddens in Kaapstad te bou goedgekeur en sê hy beskou die bou en opvul van swembaddens as “aparte kwessies”.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, het Donderdag bevestig dat 2 100 aansoeke vir swembaddens teen 24 November al goedgekeur is.

Hiervan is 2 078 van die aansoeke vir woongebiede en 13 vir nie-residensiële swembaddens.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling in die Kaapse metroraad. Foto: Danielle Karallis

Dit het bekend geword nadat ’n navraag gestuur is oor die ontwikkelingsplan van die private meisieskool St. Cyprian’s in Oranjezicht, wat ook aansoek gedoen het om ’n swembad te bou.

Dié aansoek om meer klaskamers te bou, asook ’n nuwe biblioteek, veeldoelige sportsaal, tennisbane en ’n sentrum vir uitvoerende kunste, is Dinsdag deur die munisipale beplanningstribunaal aanbeveel vir goedkeuring.

Herron sê die metroraad kan nie ’n geldige aansoek afwys nie en dat die bou en opvul van swembaddens as “aparte kwessies” beskou moet word.

Bouwerk word ingevolge die bouregulasies bestuur, terwyl die opvul en hervul van swembaddens deur waterverordenings gereguleer word.

Hy het egter benadruk dat dit tans onwettig is om swembaddens met munisipale drinkwater te vul en inwoners is aangemoedig om spaarsamig met grondwater te wees.

Sue Redelinghuys, hoof van St. Cyprian’s, het Woensdag gesê die planne vir dié bouwerk is drie jaar gelede opgestel voordat die droogte se uitwerking ervaar is.

“Die swembad is slegs ’n deel van die ontwikkelingsplan wat goedgekeur is en die skool sal verantwoordelik voortgaan met alle aspekte van die plan – veral die voorgestelde swembad.”

Volgens Redelinghuys is die skool se swembad oud, met die lengtes wat nog in tree gemeet is, en moet dit opgeknap word.

’n Nuwe swembad van 25 m by 25 m vir kompetisies en waterpolo is beoog, maar dit is nog nie ontwerp nie.

Die private meisieskool St. Cyprian’s in Kaapstad se aansoek om die skoolterrein in Oranjezicht uit te brei is vandeesweek deur die Kaapse metroraad goedgekeur en sluit in ’n aansoek om ’n nuwe binnenshuise swembad te bou. Foto: People’s Post

Die swembad sal ook so “vlak as moontlik” gehou word en nie gepas vir duik wees nie. Dit sal binnenshuis moet wees sodat die swembad heeljaar gebruik kan word, maar dit sal afhang van die geld wat beskikbaar is, sê Redelinghuys.

Indien die swembad in die buitelug is, sal die skool dit bedek wanneer dit nie gebruik word nie.

Die nuwe swembad sal met die water van die oue gevul word, saam met behandelde gryswater en reënwater. Waar nodig, sal boorgatwater gebruik word om die swembad te hervul.

As deel van die ontwikkelingsplan, sal ’n deurpad ook na die westelike deel van die kampus gebou word om verkeer in spitstyd te verlig.

Sue Redelinghuys, hoof van St. Cyprian’s, onafhanklike meisieskool in Oranjezicht, Kaapstad. Foto: St Cyprian’s School

Dit is nodig omdat die skool omring word deur nou paaie met min ruimte vir parkeerplek, sowel as twee kleuterskole en ’n tehuis.

Die skool het tans een “klein sportveld” wat deur die preprimêre skool, voorbereidingskool en hoërskool benut word, terwyl dit “minimaal” met gryswater en boorgatwater natgelei word.

Redelinghuys sê daar word ook gekyk na die moontlikheid van vruggebruik van ander sportvelde in die gebied.

Dit sal behels dat ’n baan met kunsgras ontwikkel word sodat dit nie water nodig het nie.

Met die ontwikkeling beplan St. Cyprian’s om van 955 leerlinge tot 1 098 leerlinge te groei.

Altesaam 60 besware teen die aansoek is ontvang.

* Die Kaapse metroraad het vandeesmaand aangekondig dat Vlak 6-waterbeperkings van 1 Januarie 2018 af sal geld.

Dit behels dat boorgatwater vir gebruik buite die huis ontmoedig word om grondwater te spaar.

Geen nuwe landskapwerk of sportvelde mag onder dié beperkings geskep word nie, tensy dit slegs met nie-drinkbare water besproei word.

Meer oor:  Brett Herron  |  Waterbeperkings  |  Swembaddens  |  Droogte  |  Waterskaarste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.