Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Kapenaars jubel en bid in die reën
Die foto van dié man wat Dinsdag in die spitsverkeer in Kaapstad uit sy motor geklim en langs die snelweg gebid het terwyl die reën uitgesak het, het baie harte op Facebook aangeraak.Foto: Coral Brooks/Facebook

Kapenaars het hul dankbaarheid op verskillende maniere te kenne gegee toe ’n onverwagse, maar baie welkome reënbui Dinsdag oor dié droogtegeteisterde stad uitgesak het.

Reën-, donder- en haelbuie het in onder meer Somerset-Wes, Durbanville, Kaapstad se sentrale sakegebied, die Kaapse Overberg, Goodwood, Stellenbosch en die omgewing van die Steenbrasdam uitgesak.

Ernst Nienaber, ’n inwoner van Durbanville, Kaapstad, wys die yslike haelkorrels wat hy ná die donderstorm Dinsdag in hul tuin opgetel het. Foto: Malherbe Nienaber

Die sanger Heinz Winckler het ’n foto waarop hy en sy drie seuntjies in die gietende reën by hul swembad staan op Instagram geplaas.

“Ons het pas ’n massiewe Hoëveld-tipe donderstorm met hael en reën in Somerset-Wes gehad. So ongelooflik! Ons het vol vreugde rondgehardloop en die meeste probeer maak van die afloopwater wat oral uitgesypel het!,” het Winckler daarby bygeskryf.

Die aktrise en regisseur Katinka Heyns het, soos die Wincklers, die druppels probeer opvang.

Sy het ná die reënbui ’n foto van haar emmers vol water op Instagram geplaas.

Die donderweer het omtrent geraas, maar dit was vir Michael Miller van Kaapstad soos musiek.

Bekendes het ook hul dankbaarheid oor die onverwagse reën wat Dinsdag in Kaapstad en omstreke uitgesak het op sosiale media uitgespreek. Hier staan die sanger Heinz Winckler en sy seuntjies by hul huis in Somerset-Wes.Foto: Instagram

“Ek was baie opgewonde toe ek die reën sien uitsak,” sê hy.

“Ek voel verlig en dankbaar, want elke bietjie reën wat ons nou kry, is ’n bonus en stoot Dag Zero nog ’n paar weke weg.”

Miller het omstreeks 22:00 gesê ’n donderstorm is nog in die sentrale deel van Kaapstad aan die gang.

Katinka Heyns het dié foto van haar emmers vol water op Instagram geplaas. Foto: Instagram

“Die donderweer is erg hier, en in Stellenbosch, waar ek werk, het dit net so hard gereën nadat dit eintlik maar baie droog was daar. ’n Mens hoop maar net die reën val op die regte plekke.”

Sommige inwoners kon hul oë nie glo toe dié bietjie genade uit die hemel op hulle neerstort nie en het alles net so gelos om die Here te bedank.

Coral Brooks het ’n foto op Facebook geplaas van ’n man wat met sy hand omhoog langs sy motor staan en bid terwyl die reën op hom neerstort.

“Dit is die foto wat ek vandag in die uitputtende slakkepas-spitsverkeer geneem het. Ek het skielik gesien dat hy sy motor aftrek en tot my uiterste verdwasing het hy uitgeklim, op die brug gestaan en begin bid,” het Brooks by dié foto geskryf.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens kan daar nog nie bepaal word hoeveel reën Dinsdag geval het nie. Dit sal eers Woensdagoggend gemeet kan word.

Die weerdiens sê nog reën word nie nou vir Kaapstad voorspel nie.

Meer oor:  Donderweer  |  Kaapstad  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.