Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Kapenaars lig glas water op verslapte perke

Kaapstad se huidige streng vlak 6B-waterbeperkings sal vanaf Oktober ’n ding van die verlede wees, nadat die Kaapse metroraad aangekondig het dat die waterbeperkings tot vlak 5 verslap sal word.

Dié verlaging beteken dat Kapenaars nou 70 liter water per dag pleks van 50 liter kan gebruik.

Ian Neilson, adjunkburgemeester van Kaapstad. Foto: Malherbe Nienaber

Watertariewe sal met 26,6% daal vir diegene wat minder as ses kiloliter per maand gebruik. Tariewe vir tussen tien en 35 kl sal met 56% daal, terwyl dié vir meer as 35 kl per maand met 70% afkom.

Die tarief vir handel en nywerheid sal met 18% verminder word tot R37,50 per kl.

Ian Neilson, adjunkburgemeester van Kaapstad, het gesê die Kaap se gemiddelde damvlakke wat tans op 68% staan, is ’n aansienlike verbetering op die 38% teen die einde van verlede jaar se winter.

“Die uiters lae watervlakke in Februarie het daartoe gelei dat vlak 6B-waterbeperkings ingestel moes word. Omdat Kapenaars geluister het toe ons ’n beroep op hulle gedoen het om water spaarsamig te gebruik, en danksy gevorderde druk- en waterbestuursprogramme wat deur die stad ingestel is, is die ergste scenario’s vermy.”

Neilson het bygevoeg dat daar ’n soortgelyke verlaging in sanitasietariewe sal wees.

“Ons het die droogte saam verslaan. Dit is noodsaaklik dat ’n gepaste verslapping van beperkings plaasvind, nie net sodat ekonomiese bedrywighede verbeter kan word nie, maar ook dat watertariewe verslap kan word van die huidige hoë vlakke om die nodige verligting aan huishoudings en besighede te gee ter erkenning aan die groot opofferings wat gemaak is.

“Daar word oor die volgende paar jaar baie werk beplan om die stad se watervoorsiening te versterk,” het hy gesê.

Ongelukkig het die droogte en die Dag Zero-storie mense elders na vakansie- en rolprentbestemmings laat soek. Hulle het dalk die alternatiewe gekies, so ons moet nou hard baklei om die besigheid terug te kry.
Janine Myburgh, president van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid.

Volgens die Wes-Kaapse regering het die Theewaterskloofdam, die grootste in die provinsie, ’n vlak van meer as 50% bereik. Ander damme wat die stad voer, staan ??tans op 69%.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die jongste damvlakke verwelkom.

“Ek is veral tevrede met die Theewaterskloof-damvlakke. Net ’n paar maande gelede het die dam plek-plek soos ’n woestyn gelyk en die gevaar geloop om op te droog. Die ommekeer is merkwaardig,” het Bredell gesê.

Janine Myburgh, president van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid, het gesê dat die groot uitdaging nou is om die boodskap aan toeriste en die rolprentbedryf uit te kry sodat die sektore weer aangevuur kan word. “Ongelukkig het die droogte en die Dag Zero-storie mense elders na vakansie- en rolprentbestemmings laat soek. Hulle het dalk die alternatiewe gekies, so ons moet nou hard baklei om die besigheid terug te kry.”

Myburgh het gesê dat dit heel onwaarskynlik is dat watergebruik na die ou vlakke sal terugkeer sodra die damme weer vol is, omdat besighede en inwoners geleer het om hul watergebruik te verminder. “Dit alles stel ons in ’n baie beter posisie om in die toekoms die droë jare te hanteer.”

In ooreenstemming met die vlak 5-waterbeperkings sal die volgende vanaf Oktober van toepassing wees:

  • Die waterperk vir huishoudelike waterverbruik word van 50 liter tot 70 liter water per persoon per dag verhoog;
  • Die totale waterverbruik-doelwit van die stad word met 50 miljoen liter tot 500 miljoen liter per dag opgeskuif;
  • Waterbeperkings vir kommersiële en nywerheidsverbruikers word van 45% tot 40% verlaag; en
  • Tariewe word verlaag.

Residensiële tariewe (BTW uitgesluit) word as volg verlaag:

  • 0 tot 6 kl: van R28,80/kl tot R21,19/kl
  • 10,5 kl: van R46/kl tot R34,43/kl
  • 10 tot 35 kl: van R120,27 tot R52,39/kl
  • Bó 34 kl: van R1 000/kl tot R300/kl

Kommersiële en nywerheidstariewe verlaag van R45,75/kl tot R37,50/kl.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.