Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Karoo se damvlakke styg
Die Voëlvleidam se vlak het die afgelope week van 74,6% tot 72,7% gedaal. Dié foto van die dam tussen Gouda en Wellington is Woensdag geneem. Foto: Samuel Walters

Damvlakke in sommige dele van die Karoo het die afgelope week verder gestyg, met talle damme wat heelwat voller is as dié tyd verlede jaar.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Maandag egter gewaarsku dat hoewel die onverwagte somerreën ietwat verligting gebring het, “is dit nie naastenby genoeg om die droogte in die streek te breek nie”.

Hy het in ’n verklaring daarop gewys dat die gemiddelde vlak van die Gouritsrivier-opvangsgebied, wat dele van die Karoo en Suid-Kaap bedien, van 19,7% tot 21,5% gestyg het. Verlede jaar oor dieselfde tydperk het dit op 16,9% gestaan.

Teen Maandag het die Wes-Kaap se gemiddelde damvlak net effens gedaal van 53,8% tot 53,3%, terwyl dit verlede jaar nog 47,7% was.

Die gemiddelde vlak van Kaapstad se damstelsel het ook slegs van 71,8% tot 71,4% gedaal – teenoor 59,7% dié tyd verlede jaar.

Die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, het selfs effens gestyg van 64,3% tot 64,7%. Verlede jaar was dit nog 46,3% vol.

Bredell sê daar is tans drie kwessies wat tot kommer lei in die provinsie wat water betref.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.Foto: Verskaf

“Eerste is die Karoo, waar boere veral sukkel. Tweede is die noordelike dele van die Weskus, grootliks in Matzikama se munisipale gebied, waar die droogte voortduur. Dan is daar ook die toename in daaglikse watergebruik in plekke soos Kaapstad, waar die damvlakke veel beter daaruitsien.”

Kaapstad se metroraad het Maandag bevestig dat die gemiddelde gesamentlike watergebruik vir die voorafgaande week van 762 megaliter (miljoen liter) per dag tot 742 megaliter afgeneem het.

Onder vlakeen-waterbeperkings is die mikpunt vir gebruik egter onder 650 megaliter per dag.

Die Benede-Steenbrasdam se vlak het op 78% gebly en 5,8 mm reën is die voorafgaande sewe dae daar gemeet.

Die Voëlvleidam se vlak het van 74,6% tot 72,7% gedaal en 3,5 mm reën is aangeteken.

Verder het die Bergrivierdam se vlak van 86,3% tot 85,1% afgeneem en die Wemmershoekdam se vlak van 75,3% tot 73,3%.

In die noordweste van die provinsie het die Clanwilliamdam se vlak van 52,7% tot 49% gedaal en het dit verlede jaar nog op 54% gestaan.

In die Karoo is verskeie damme wat verlede jaar nog dolleeg was, al heelwat voller en het sommige damvlakke verder gestyg.

By die Gamkadam naby Beaufort-Wes is 40,8 mm reën oor die voorafgaande sewe dae gemeet en die vlak het van 17,2% tot 16,7% afgeneem. Die dam was dié tyd verlede jaar nog leeg.

Die Calitzdorpdam se vlak het van 26,3% tot 39% gestyg en was verlede jaar net 7,6% vol.

Die Gamkapoortdam naby Prins Albert se vlak het ook van 1,7% tot 3,1% gestyg en was verlede jaar nog leeg.

By die Kammanassiedam naby Oudtshoorn is 7,4 mm reën gemeet en het die vlak op 2,1% gebly.

Die Stompdriftdam naby Oudtshoorn se vlak het net van 5,6% tot 5,3% gedaal en het verlede jaar op 4,3% gestaan.

Daarby het die Floriskraaldam naby Laingsburg se vlak slegs van 9,7% tot 9,4% gedaal en was dit verlede jaar net 2,8% vol.

Die Leeu-Gamkadam se vlak het van 18% tot 15,9% afgeneem en was verlede nog leeg.

Die Oukloofdam naby Prins Albert se vlak het van 10,2% tot 9,7% afgeneem en was verlede jaar ook leeg.

In die Suid-Kaap het die meeste damvlakke verder gestyg.

Die Duivenhoksdam naby Heidelberg se vlak het van 80% tot 100,2% toegeneem en was verlede jaar net 43,4%.

By die Korentepoortdam naby Riversdal is 7,8 mm reën oor die voorafgaande sewe dae gemeet en die vlak het van 51,3% tot 56,7% gestyg.

By die Tuinroetedam in George is 20,4 mm reën aangeteken en die vlak het van 88,9% tot 98% toegeneem.

Die Ernest Robertsondam buite George se vlak staan op 100,9% en 14,8 mm reën is gemeet.

Die Wolwedansdam tussen Mosselbaai en George se vlak het ook van 60,4% tot 66,7% gestyg en 13,4 mm reën is aangeteken.

damvakke
Damvlakke

Meer oor:  Damvlakke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.