Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Kenner wil ysberge Kaap toe sleep vir water

Nick Sloane, die Suid-Afrikaanse marieneherwinningskenner, wil ysberge Kaapstad toe laat sleep om met die waternood daar te help.

Sloane het internasionaal bekend geword toe hy in 2013 die massiewe wrak van die Costa Concordia dryfbaar gemaak het nadat dit gestrand en omgeval het.

Nick Sloane, bergingsmeester wat die Costa Concordia regop gedraai het. Foto: Nasief Manie

Sloane sê hoewel dit ’n bietjie gek mag klink, stel genoeg mense daarin belang om in Mei ’n seminaar daaroor in Kaapstad te hou.

Akademici van die Universiteit van Kaapstad en ingenieurs het die kwessie reeds geëvalueer.

Dr. Chris van Holdt van Aurecon se adviesburo sê hy glo dit is tegnies en ekonomies uitvoerbaar genoeg om ernstig oorweeg te word.

George Mougin, ’n Franse ingenieur, dr. Olav Orheim, ’n Noorweegse gletserkundige, Sloane en ander kenners sal op die seminaar na die uitvoerbaarheid van so ’n ysbergprojek kyk.

Hoewel Kaapstad verskeie projekte aan die gang het vir watervoorsiening, sê Sloane daar is steeds ’n gaping van sowat 100 miljoen liter per dag.

“Met Saldanha wat nou deur ’n Dag Zero in die gesig gestaar word, lyk dit asof hierdie waterkrisis in 2019 gaan voortduur.”

Daar word geskat dat daar meer as 2 000 miljard ton ysberge elke jaar van Antarktika afbreek en dan op oseaanstrome ronddryf totdat dit in warmer water smelt.

Sloane en sy maatskappy Southern Ice hoop om van dié ysberge te “vang” wat noordwaarts na Gough-eiland se kant toe dryf, sowat 2 700 kilometer suidwes van Kaapstad.

Die Costa Concordia op sy sy by die eiland Isola del Giglio aan die Italiaanse weskus.

Orheim, vroeër direkteur van die Noorweegse Poolinstituut, het 271 000 ysberge bestudeer waarvan net 7% bruikbaar sou wees. Die ysberg moet tafelvormig wees met steil kante en dit moet sowat 200 by 250 meter dik wees.

Sodra só een gevind word, sal twee sleepbote ’n enorme “hemp” van spesiale materiaal tot onder die see daarom span. ’n Tenkskip sal die ysberg sowat 1,5 kilometer agter hom sleep en die sleepbote sal seker maak dat dit op die roete bly.

Die ysberg sal na Cape Columbine noord van Saldanha gesleep word waar dit sowat 40 kilometer van die kus op die seebodem geanker sal word op dieselfde manier as wat olieplatforms geanker word.

Om die vars water te ontgin, is nog ’n uitdaging. Dit sal dalk met oopgroefmyntegnologie “gemyn” word, na tenkskepe gepomp word en só na die kus vervoer word. Die span reken die ysberg sal 55 miljoen kiloliter ’n jaar oplewer, meer as 150 miljoen liter ’n dag.

Orheim reken sowat 30% van die ysberg sal op pad Kaapstad toe smelt. Ontsouting is ’n veel omslagtiger metode en tot dusver is daar bereken dat dit R20 ’n kiloliter sal kos. Orheim bereken met die ysbergplan kan water teen R30 ’n kiloliter voorsien word.

Die Kaapse stadsraad sê hulle sal nie die ysbergvoorstel oorweeg nie omdat dit te veel gevare inhou en die proses kompleks en duur is. – News24

Meer oor:  Nick Sloane  |  Kaapstad  |  Costa Concordia  |  Waternood  |  Ysberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.