Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
KYK: Boere biddend, dankbaar tydens droogte

“Dis bitterlike mooi bale, baie dankie.”

Trane van dankbaarheid gemeng met dreigende wanhoop het Dinsdagaand in Aberdeen in die Oos-Kaap gevloei nadat Droogtehulp met Burre hul 950ste vrag voer daar afgelaai het.

“Dis nou al amper ’n jaar droog, méér as ’n jaar. Uit voer al twee jaar (sic). Ons waardeer die skenkings, en ek dink my diere gaan dit nog méér waardeer,” het ’n oorstelpte Mias Fourie snikkend gesê.

’n Boer, bekend as oom Nick, skraap dankbaar voer bymekaar. Foto: Verskaf

Burre Burger, stigter van die organisasie wat sedert Januarie 2017 boere in droogtegeteisterde gebiede te hulp snel, sê die wêreld by Aberdeen lyk maar nog taai.

Burger ontvang daagliks video’s van boere wat smeek vir skenkings.

’n Onlangse video van ’n hoop dooie skape agterop ’n bakkie en ’n duiker wat ’n paar treë verder sukkel om op te staan is tekenend van die droogte se genadelose greep.

“Die ouens het reën gehad, maar nie soveel dat hulle uit die moeilikheid is nie,” sê Burger.

Die oorskot van ’n dier wat moes vrek weens hongerte is tekenend van die droogte se genadelose greep.Foto: Verskaf

Hulle het vandeesweek twee vragte lusern en een vrag mielies by boere soos Fourie en Gertjie Janse van Rensburg (ook in video) afgelaai.

Altesaam 14 vragte is die laaste twee weke by Aberdeen en in die Boesmanland afgelewer.

Gebedskringe het veral die laaste week hande gevat omdat die droogte, ondanks die onlangse reën in die Kaap, nog lank nie verby is nie.

“Hoop is ’n droom wat aanhou al word jy wakker,” sê Burger, wat vroeg verlede jaar die mikpunt van vyf vragte gehad het.

Die 951ste vrag word Woensdag ook by Aberdeen afgelewer. Vrag nr. 952 is vir die Boesmanland bestem.

Burger sê sy organisasie help álmal, want droogte vra nie wat jou kleur is nie.

“Droogte vra een ding, en dit is: ‘Is jou bloed rooi?’ En dan val hy jou so ’n bietjie aan.”

Burger en Peter de Villiers, voormalige Springbok-afrigter, is besig om die land vol te toer om onder meer bewustheid van die droogte te versprei.

Die inwoners van Bethal in Mpumalanga sal Woensdag hul motiveringspraatjie, “Die bal van hoop en geloof”, kan bywoon.

“Peter is ’n baie goeie vriend van my. Sy dogter het vier weke gelede uitgevind sy het kanker. Ek het vir hom gesê hoor hier, moenie weggaan Zimbabwe toe nie, jou dogter het jou nou nodig.”

Burger en De Villiers het toe besluit om saam die land vol te reis.

“Die weer kan ons nog steeds kom verras, ’n mens weet nooit nie.”

Meer oor:  Droogtehulp  |  Burre Burger  |  Aberdeen  |  Oos-Kaap  |  Droogte  |  Voer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.