Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
KYK: Boere, inwoners juig ná goeie reën

Uitstekende reënval het dié naweek oor groot dele van die noordelike en noordoostelike dele van die Noord-Kaap voorgekom – en boere van die droogtegeteisterde provinsie kan dié seisoen ook na bogemiddelde reënvalsyfers uitsien.

So sê Rejoyce Mohlamme, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse weerdiens in Bloemfontein.

Volgens Mohlamme is die reënval wat oor die afgelope weke en die naweek uitgesak het eintlik die normale hoeveelheid somerreënval wat in die provinsie verwag word.

Len Fourie van Upington het die foto van die superselstorm wat met 'n sandstorm gepaard gegaan het buite Upington geneem.Foto: Len Fourie

Die Noord-Kaap gaan al die afgelope agt jaar gebuk onder een van die ergste droogtes in menseheugenis.

Al het die noordelike en noordoostelike dele van die provinsie reeds vroeg in die seisoen goeie neerslae begin ontvang, steier die Boesmanland, die Roggeveld en groot dele van die Namakwaland steeds sonder reën.

Volgens Mohlamme lyk die vooruitsigte op reën vir die volgende ses maande baie goed.

“Die minimum syfers sal vanjaar telkens oorskry word.”

John Human het die foto op sy plaas 65km noordoos van Upington geneem. Human sê hy het sowat 11,5 mm reën ná die storm gemeet. Foto: John Human

Sy skryf die goeie vooruitsigte toe aan die versterking van die La Niña-stelsel in die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI) wat in ’n positiewe fase inbeweeg het.

Sy sê die stelsel is nou stabiel en daarom kan goeie reënval te wagte wees.

Die voorspelling vir die volgende twee weke toon nog reënval vir die oostelike dele van die Noord-Kaap en die Vrystaat.

Die Boesmanland, Namakwaland en Roggeveld behoort in Desember en vroeg in Januarie reën te ontvang.

Intussen het ’n superselstorm, wat met ’n sandstorm gepaard gegaan het, Saterdagaand omstreeks 18:00 Upington in die Kalahari getref.

Len Fourie van Upington het die foto van die superselstorm wat met 'n sandstorm gepaard gegaan het buite Upington geneem.Foto: Len Fourie

Verheugde inwoners het met hul kameras die verskynsel vasgevang en die reën met ope arms verwelkom.

Dit het omstreeks 16:00 sowat 20 km buite die dorp op Raaswater gehael en tussen 9 mm en 19 mm reën is in die dorp gemeet.

In Kathu het ’n wolkbreuk oorspoelings veroorsaak en groot skade aangerig toe bome ontwortel is.

Tussen 95 mm en 120 mm reën het gedurende die wolkbreuk binne ’n bestek van ’n halfuur hier uitgesak.

Putsonderwater is óók onder water nadat tussen 20 mm en 35 mm reën Saterdag oor dié dorre streek uitgesak het.

Die put is uiteindelik onder water. Joandré Nel het die foto van die skaapkrale onder water op hul plaas by Putsonderwater geneem.Foto: Joandré Nel

Albertus en Joandré Nel kon nie wag om hul kroos op die bakkie te laai en deur die veld te gaan ry waar die waterpoele soos ’n uitgestrekte oase gelê het nie.

In Van Wyksvlei op die plaas Luisvaille het daar sowat 72 mm reën uitgesak.

In Kimberley het dit sowat 25 mm gereën en nog reën is vir Sondag voorspel. In die Vaalharts-omgewing het dit Saterdag tussen 42 mm en 55 mm gereën.

Water, water en nogmaals water. Die vreugde oor die reën was groot in Putsonderwater toe daar tussen 20 mm en 35 mm op Joandré en Albertus Nel se plaas uitgesak het. Foto: Joandré Nel

Alhoewel die reën vanaf Maandag oor die sentrale streek vir ’n paar dae sal opklaar kan koel tot matige en warm weer te wagte wees.

Meer oor:  Droogte  |  Storms  |  Noord-Kaap  |  Kalahari
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.