Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
KYK: Goeie reën val uiteindelik in Oos-Kaap

Goeie reën het die afgelope 24 uur in Port Elizabeth en omstreke in die Oos-Kaap geval, maar nie genoeg om die droogte te breek nie, sê die plaaslike weerkantoor.

Swaar reën het Sondagmiddag in die stad geval en binne twee uur ’n gedeelte van Strandweg in Somerstrand oorstroom.

Strandweg in Port Elizabeth was Sondagmiddag oorstroom ná die swaar reën. Foto: Sonja De Ridder Billson/Twitter

Reënwater het in Brookeshill-rylaan afgestroom en soos ’n waterval oor die trappe voor die Bayworld-oseanarium tot in Beachweg gespoel.

’n Omstander het geskerts dat as die Bayworld-oseanarium nog dolfyne gehuisves het, daar Sondag waarskynlik genoeg reënwater sou wees vir die dolfyne om oor die pad terug see toe te kon swem.

Volgens die plaaslike weerkantoor is daar Maandagoggend om 08:00 net meer as 40 mm reën by die lughawe in Port Elizabeth gemeet.

In die Noordeinde-gebied van die stad, in Fettes-weg, is 39,8 mm gemeet, terwyl 37,8 mm in Uitenhage gemeet is.

Hael het Sondag ook vir enkele minute oor die grootste deel van Uitenhage geval.

Luidens ’n verklaring van die weerkantoor is goeie reën in dié opvangsgebiede gemeet:

  • Joubertina 32,2 mm
  • Kareedouw 40 mm
  • Kougadam 30 mm
  • Patensie 42,2 mm
  • Swartkops 49,6 mm
Die trappe voor die Bayworld-oseanarium in Port Elizabeth het soos ’n waterval gelyk. Foto: Suzette Ludeke/Facebook

Garth Sampson van die weerkantoor wys daarop dat die reën wat by die Kougadam se muur gemeet is, nie veel vir die opgaardam beteken nie. Daar moet vir die afloop van water gewag word voordat ’n verskil in die damvlakke gesien sal word.

Volgens die Gamtoos-besproeiingsraad was die Kougadam teen Maandagoggend 6,79% vol. Dit is ’n piepklein toename van 31 Augustus toe die dam op 6,74% was.

Sampson sê goeie reën is nodig in die Kougaberge en in die Baviaanskloof om na die Kougadam af te loop.

Plaaspaaie in Jansenville lê vol reënwater. Foto: André Vermaak/Twitter

Hy sê die plaasdamme sal egter eers moet vol loop voordat ’n goeie afloop verwag kan word.

Volgens die Baviaanskloof-Hartland-Facebookblad is tussen 20 mm en 30 mm reën op plekke in die Baviaanskloof gemeet.

  • Speekhout 25 mm
  • Vleikloof 20 mm
  • Sewefontein 23 mm
  • Damsedrif 28 mm
  • Rus-en-Vrede 18 mm
  • Zandvlakte 20 mm

Volgens Sampson word nog reën vir Port Elizabeth en opvangsgebiede oor die naweek voorspel. Hy sê egter inwoners moet water steeds uiters spaarsamig gebruik.

Intussen werk die Kouga-munisipaliteit onverpoosd voort om water te bespaar en het veral hul fokus op die dorpe Patensie en Hankey verskerp. Die twee dorpe is afhanklik van die Kougadam as ’n waterbron.

’n Inwoner van Tsitsikamma spog met sy reënmeter op Twitter. Foto: Stephen Handige Hange/Twitter
Die Kougadam in Patensie gedurende ’n reënbui Sondag. Die dam was Maandagoggend 6,79% vol. Foto: Elmarie Sampson

’n Veldtog is die afgelope week van stapel gestuur waar letterlik van deur tot deur in die dorpe gestap word om waterlekke in huise te herstel. Die veldtog kom kort nadat beurtwater vir die twee dorpe in Augustus in werking gestel is toe die Kougadam se watervlak tot onder 7% gedaal het.

Hattingh Bornman, Kouga se speaker, sê meer moet eenvoudig gedoen word om water te bespaar.

20 tydelike werkers is vanuit die onderskeie gemeenskappe opgelei om huise met waterlekke te identifiseer. Die werkers sal inwoners ook wys hoe om ’n waterlek te identifiseer en raad gee oor hoe om meer water te bespaar.

Volgens Laura-Leigh Randall, Kouga se munisipale woordvoerder, word water deurgaans in tenke na die dorpe aangery en bottels water word in die gemeenskap beskikbaar gestel.

Sondag se reën in Patensie:

Meer oor:  Kougadam  |  Oos-Kaap  |  Waterkrisis  |  Reën  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.