Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
KYK: Só lyk 'n dolleë dam uit die lug
’n Stroompie water wat sukkelend deur digte gras vloei, is bykans al wat oorgebly het van die Kouga, die Nelson Mandelabaai-metro se grootste dam. Foto: Oos-Kaapse Agentskap vir Parke en Toerisme

Die Nelson Mandelabaai-metro se grootste dam, die Kouga, is op 7,9% slegs ’n stroompie wat sukkelend deur die digte gras vloei wat intussen op die bodem begin groei het.

Plek-plek hou die stroompie op en kan ’n klein plas eers weer meters verder opgespoor word.

’n Video van dié dam, wat ook die Kouga-munisipaliteit, wat Jeffreysbaai en Humansdorp insluit, en die Gamtoosvallei van water voorsien, is op die Oos-Kaapse Agentskap vir Parke en Toerisme (OKPTA) se Facebook-blad geplaas.

Dié video bied ’n duidelike uitsig oor die hele dam, waarin daar amper geen water is nie, behalwe by die keerwal.

Lucas Andrew, die departement van water en sanitasie (DWS) in die Oos-Kaap se direkteur van waterregulering en -verbruik, sê die droogte in die provinsie is reeds baie ernstig, veral in die westelike dele.

Volgens hom is vyf munisipaliteite reeds tot rampgebiede verklaar weens die voortslepende droogte en volg ’n sesde een binnekort.

Die Nelson Mandelabaai-metro, die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit, die Amathole-distriksmunisipaliteit, die Makana-munisipaliteit en die Kouga-munisipaliteit is reeds amptelik rampgebiede.

Die proses om die O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit, wat dorpe soos Mthatha en Port St. Johns insluit, as rampgebied te verklaar is aan die gang.

Andrew sê provinsiale rampbestuur is van plan om eersdaags die hele provinsie tot ’n rampgebied te verklaar.

Die damvlak van die Kougadam, die grootste in die Nelson Mandelabaai-metro, staan op ’n skamele 7,9%. Foto: Oos-Kaapse Agentskap vir Parke en Toerisme

“Munisipaliteite vind dit moeilik om kop bo water te hou met die droogte en die meeste het al hul bedryfsbegrotings vir watertenks uitgeput.

“Die reënval was baie onvoorspelbaar, met sekere damme in die provinsie wat vol is, terwyl ander baie leeg bly. Daar word ook voorspel dat die westelike dele van die provinsie steeds toestande sal ervaar wat droër as gewoonlik is, terwyl die oostelike dele dalk goeie reën of selfs vloede sal kry,” sê hy.

Andrew sê gerugte dat inwoners van Jeffreysbaai nou tot 30 liter water per persoon per dag beperk word, is nie waar nie.

“Daar word van die munisipaliteit verwag om ’n 25%-beperking op water vir huishoudelike gebruik en 60% vir besproeiingsdoeleindes te plaas.”

Op die vraag oor hoe die DWS besoekers aan toeristedorpies soos Port Elizabeth, Jeffreysbaai en Port Alfred bewus gemaak het van die erns van die droogte, het Andrew geantwoord: “Bewusmakingsveldtogte is onderneem, maar toeriste gebruik die water van die plek waar hulle bly.

“Dit is dié plek wat die waterrekening kry, so hulle moet seker maak dat hul huurders of loseerders die waterbeperkings verstaan.”

Hy sê ondanks die begin van die somerreëns is die Oos-Kaap steeds in die kloue van ’n ernstige droogte.

“Ons doen ’n beroep op die sektor, regering en die individuele verbruikers om bewus te wees hiervan, waterverbruik te verminder en lekkasies aan te meld.”

Video van die Kougadam, die Nelson Mandelabaai-metro se grootste dam, wat tans op 7,90% staan:

  • Video: Die Oos-Kaapse Agentskap vir Parke en Toerisme (OKPTA)

Meer oor:  Nelson Mandelabaai-Metro  |  Dam  |  Water  |  Dag Zero  |  Kouga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.