Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
KYK: Prokureur gooi yswater op hom uit vir droogtehulp

’n Bloemfonteinse prokureur het Woensdag in die koel vroegoggendluggie sy japon laat waai, yswater oor sy kop en kaal bolyf uitgestort en só ’n ent op sy motorfiets gery.

Dít alles ter ondersteuning van Droogtehulp van Burre Burger, waardeur geld ingesamel word vir boere in droogtegeteisterde gebiede in die land.

Pieter Skein van Pieter Skein-prokureurs het besluit om bewusmaking vir dié droogtehulpprojek te doen, nadat hy ’n droogtehulp-video op WhatsApp ontvang het. Daarin wys Burger die droogte se uitwerking en vra hy skenkings van net R20, vier vyf rande, vertel Skein.

Pieter Skein van Pieter Skein-prokureurs in Bloemfontein demonstreer Woensdag voor sy werkplek vir Netwerk24 hoe hy in die video ná sy “Ice Bucket Challenge” op sy motorfiets gery het.Foto: Mlungisi Louw

“Hy (Burger) wys die video van ’n lammetjie wat lê en eet en langs hom is daar ’n ander een wat dood is. Dit het maar net my hart geruk en ek het gedink: R20 is nou regtig niks nie,” vertel Skein.

Hy het eers Burger se video op WhatsApp-groepe versprei, soos ’n motorfiets-, buurtwag- en jaggroep. Hy het ook op die groepe van sy beplande “Ice Bucket Challenge” vertel.

Pieter Skein, die Bloemfonteinse prokureur, wat Woensdag vroegoggend sy japon laat waai, yswater oor hom gestort en toe ’n ent op sy motorfiets gaan ry het. Dit was ter ondersteuning van Droogtehulp van Burre Burger.Foto: Mlungisi Louw

“Toe dink ek, ek gaan vir die ouens sê ek daag hulle nie uit om ys oor hulle te gooi nie. Ek vra hulle om R100 vir droogtehulp te gee.”

Hy het Woensdag om 06:30 in sy japon met ’n pet op die kop en handskoene aan die oggendlug van 4,5 °C voor sy huis in Dan Pienaar aangedurf.

Sy seun Hanré het alles op video opgeneem.

Terwyl hy sy japon losmaak, sê hy: “A man’s got to do what a man’s got to do.”

Hy gee sy japon en pet vir Hanré aan. Geklee in net ’n kortbroek, hardloopskoene en handskoene, gooi hy dan die yswater oor sy kop.

Hy gee ’n rilling, spring op sy motorfiets en brul weg.

Hy het dié video toe ook op WhatsApp versprei.

Die Extreme-motorfietsklub, waarvan hy lid is, het Woensdag om 07:00 ’n noodvergadering gehou om te kyk hoe hulle die projek kan ondersteun.

Pieter Skein op sy motorfiets.Foto: Mlungisi Louw

Sowat R2 500 is Woensdagoggend uit die klub en WhatsApp-groepe ingesamel.

Netwerk24 het verlede jaar oor die motorfietsklub se geldinsameling van R53 000 vir die Martie du Plessis-skool berig, waarin 822 km op ’n grondpad afgelê is.

Pieter Skein stort die yswater oor hom uit.Foto: Skermgreep
Pieter Skein wys die yswater.Foto: Skermgreep
Pieter Skein Woensdagoggend “gepantser teen die koue” in sy japon, voordat hy water oor hom gestort het.Foto: Skermgreep

Skein sê die uitdaging gaan nie oor hom nie.

“Dit gaan oor ’n groter doel – om Burre Burger se droogtehulp aan die boere, en eintlik hul vee, te ondersteun.”

Hy sê dit was koud, maar lekker. “Dis die minste wat ek kan doen vir só ’n goeie doel.”

Burger sê in sy reaksie op Skein se video dit laat hom sprakeloos.

“Party dae voel dit jy is besig om alleen bewusmaking te doen vir landbou. Ons organisasie probeer regtig oral help waar ons kan,” sê Burger.

Hy meen daar is baie wat die regering kan doen wat hulle as gewone mense probeer doen, en dis wat Skein nou deur sy bewusmaking gedoen het.

“Dan voel dit vir my ons is besig om iets reg te doen.”

Hy sê baie mense dink die droogte is verby, wat nie die geval is nie.

“Die droogte is nog besig om baie boere seer te maak.”

Meer oor:  Motorfiets  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.