Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Laingsburg: Wie’s reg oor water?

Ses trokke met sowat 35 000 liter water het die naweek op Laingsburg aangekom, waar ’n ernstige tekort aan water ondervind word.

Met waterbronne in die Karoostreek wat tans onder geweldige druk is, is inwoners van Laingsburg, Beaufort-Wes en Prins Albert almal erg bekommerd dat hul water opraak.

Gift of the Givers
’n Lid van Gift of the Givers laai gebottelde water op wat by die Laingsburg-munisipaliteit afge­lewer gaan word. Foto: Facebook/Gfit of the Givers

Teen Sondag was Laingsburg se hoofreservoir slegs 5,6% vol en loop dit vinniger leeg as wat dit volgemaak kan word, berig Warda Meyer.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die ramphulporganisasie Gift of the Givers, het ernstige kritiek teen die Wes-Kaapse regering uitgespreek nadat hy die tonne gebottelde water aangery het.

Die provinsie ontken egter dat krane op die dorp opgedroog het.

Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Saterdag gereageer en gesê die dorp gaan wel gebuk onder die ergste droogte die afgelope 400 jaar, maar hy het ontken dat daar geen water is nie, soos wat Gift of the Givers beweer.

Bredell meen sulke bewerings is nie akkuraat nie en het in die verlede “groot skade aangerig”.

Gift of the Givers het vroeër gesê hy het wanhopige oproepe van die Laingsburg-munisipaliteit ontvang dat hul hoofwaterbron, die Soutklooffontein, opgedroog het.

’n Week gelede het die organisasie vragte gebottelde water aan Beaufort-Wes geskenk nadat die droogte sy tol op dié dorp geëis het.

Dr. Imtiaz Sooliman

Sooliman sê op sy Facebook-blad vrae moet gevra word oor die voorbereidings wat die Wes-Kaapse regering getref het vir watertekorte buite Kaapstad.

“Hoekom bel die munisipaliteite net Gift of the Givers wanneer daar ’n krisis is? Is daar ’n gebrek aan geloof in hul eie hiërargie om die werk doeltreffend te verrig?” vra hy.

Sooliman sê vir al die ingrypings wat die Gift of the Givers miljoene rande uit die saak gejaag het, het die organisasie nie eens ’n enkele rand se finansiering van die Wes-Kaapse regering ontvang nie, hoewel die organisasie sedert Maart verlede jaar herhaaldelik in verskeie vergaderings finansiering beloof is. “As die beloftes gerealiseer het, kon ons die huidige waterkrisis op baie gebiede verhoed het en duisende diere en honderde werkers die nood gespaar het.

“Maar elke keer wat Gift of the Givers ingegryp het, of dit gaan om die wateraansluiting in die Karl Bremer-hospitaal (waar ons binne 45 minute gereageer het), die verspreiding van water na skole waar krane opgedroog het, die lewering van voer aan honger diere, die verskaffing van noodhulp vir die brande in Khayelitsha en elders, en selfs die verskaffing van verskeie brandweerstasies met water vir brandbestryding, het die organisasie net ’n pluimpie en herhaaldelike beloftes van finansiering van die Wes-Kaapse regering ontvang.

“Tien maande het verbygegaan, en ons wag nog steeds.”

Sooliman sê danksy vrygewige Suid-Afrikaners en verskeie maatskappye wat Gift of the Givers met skenkings bygestaan het, kan die organisasie voortgaan om hulp te verleen waar hulp nodig is.

“So, hier is ons weer – ons personeel sal môreoggend (Saterdag) om 09:00 by ons Tygerberg-pakhuis tydens hul breek aan diens wees om water vir die mense in Laingsburg af te lewer.

“Ons sal waarskynlik nog ’n dankie kry, ’n pluimpie, ’n nuwe leë belofte van finansiering tot die volgende munisipaliteit ons tydens ’n krisis inroep omdat hulle geen geloof of hoop in hul eie hiërargie het nie.”

Anton Bredell
Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning. Foto: Deon Raath

Bredell meen egter die feit van die sake is dat die provinsiale regering noukeurige planne het ten opsigte van die wateruitdagings in die Wes-Kaap.

“Wat gebeur, is dat klein dorpe in die Karoostreek afhanklik is van reservoirs wat water van boorgate ontvang.

“Gedurende die vakansiemaande, wanneer die dorpe deur toeriste oorval word, loop die reservoirs vinniger leeg as wat hulle volgemaak word.

“Die uiteinde is dat daar met tye watertekorte is wat bestuur aanpak deur beurtwater toe te pas en deur ander inisiatiewe, soos om gebottelde water aan inwoners te verskaf.”

Hy hou vol dat daar tot nou toe nie ’n enkele gemeenskap in die Wes-Kaap was wie se drinkwater opgeraak het nie, “al ervaar ons die ergste droogte in 400 jaar”.

Dit is volgens hom ook die geval op Laingsburg.

Meer oor:  Anton Bredell  |  Gift Of The Givers  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.