Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Makhanda bid ‘dat Hemelse Vader hemelsluise oopmaak’

Duisende inwoners van Makhanda (Grahamstad) is al ses dae sonder lopende water weens die droogte in dié omgewing.

Inwoners van Makhanda wag hul beurt af om water by ’n tenkwa te tap. Foto: Lulama Zenzile

Meer as 80 000 mense van Makhanda-Oos en inwoners van 19 strate in Makhanda-Wes word geraak. Ander dele van die dorp kry sporadies water en wanneer daar water is, “drup-drup” dit volgens inwoners net by die krane uit.

Die Setlaarsdam wat water aan die dorp voorsien, is slegs 13% vol, maar water kan weens die slik in die dam nie uit die laaste 10% gepomp word nie.

Talle inwoners is dit eens die enigste oplossing is om te bid dat “die Hemelse Vader die sluise van die hemel oopmaak” sodat die damme vol kan word.

Mense wat leë waterhouers saamdra, is ’n algemene verskynsel.

In Victory het mense begin juig toe die woord versprei dat die munisipale watertenkwa sy rondes in die buurt doen.

Inwoners het inderhaas waterbottels, emmers, baddens en enige houer waarin hulle water kan opgaar, gegryp en straat toe gehardloop. Hulle is al ’n week lank sonder water.

Sindiswa Davane (62) het sukkelend haar emmers met water huis toe gesleep terwyl sy brom oor die waterskaarste. Haar grootste irritasie is dat sy nie die toilet kan spoel nie, en ’n stryd het om haar kleinkinders soggens sonder water gereed te kry vir skool.

“Ek is so bang die water in die emmers word opgebruik. Ons almal in die huis dink eers twee of drie keer voordat ons water drink. Ons word nie voldoende ingelig oor wat die oorsaak van die probleem is nie en ook nie wanneer dit opgelos gaan word nie,” sê sy.

Kanne en emmers word Maandag by ’n watertenkwa in Makhanda volgemaak. Foto: Lulama Zenzile

Gladman Magopeni van Fingo Village sê die vuil wasgoed in sy huis hoop nou al langer as ’n week op. Hy is veral bekommerd oor sy kinders se skoolklere wat gewas moet kom.

“ ’n Week sonder water is ’n verskriklike lang tyd. Ek vat elke aand 20 liter water huis toe in vier 5-liter-bottels, maar as ’n mens dit vir kook, drink en was moet gebruik, hou dit skaars een aand.”

Wellington Planga (50) bekommer hom oor die gesondheidsrisiko van toilette wat nie gespoel kan word nie, mense wat nie elke dag kan bad nie, en talle ou mense wat hul medisyne moet kry.

Sidney Stevens van Ghost Town sê honde vrek omdat hul eienaars elke druppel water self drink of gebruik.

“Ek sien daagliks hoe mense hulself in die bosse gaan verlig. Dit is vieslik, maar dit is óf die bos, óf jy sit met die stank in jou huis omdat die toilet nie kan spoel nie.”

Mense dra swaar aan hul houers vol water. Foto: Lulama Zenzile

Inwoners wat motors besit, het die munisipale waterfontein ’n entjie buite die dorp begin gebruik. Ook hier vorm die mense lang toue om soms tien houers op ’n slag met water te vul.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, het Maandag gesê hul vragmotors met honderde tonne gebottelde water is vanaf Johannesburg, Kaapstad en Durban onderweg na Makhanda.

Die Waainek-watersuiweringsaanleg, wat water vanaf die Howiesonspoortdam kry, ondervind weens ’n elektriese fout die afgelope paar dae probleme met die hoeveelheid water wat dit kan pomp.

Omdat die watervlak van dié dam skerp daal, gaan dié watersuiweringsaanleg, wat die westelike deel van die dorp daagliks van 8 megaliter water voorsien, in alle waarskynlikheid moet toemaak.

Die Makhanda-waterkrisiskomitee het inwoners in die weste gevra om elke dag net 25 liter water per persoon te gebruik.

Meer oor:  Makhanda  |  Grahamstad  |  Reën  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.