Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Makhanda juig toe water opdaag
Ses trokke van Gift of the Givers het Dinsdag in Makhanda aangekom. Foto: Lulama Zenzile

Duisende inwoners van Makhanda het Dinsdagaand gejuig toe die Gift of the Givers se vragmotors met honderde tonne gebottelde water die dorp binnery.

Inwoners is al nege dae sonder lopende water. Hulle is afhanklik van munisipale watertenke om water te voorsien, maar die munisipaliteit se watervoorsiening is onvoldoende.

Gift of the Givers het Saterdag dadelik hul trokke in Johannesburg, Durban en Kaapstad begin laai toe desperate inwoners by die organisasie om hulp gesmeek het.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die organisasie, sê ses vragmotors het Donderdag in die vroeë oggendure in Port Elizabeth aangekom.

In Port Elizabeth het drie trokke by ’n plaaslike maatskappy water ingelaai, waarna die trokke in ’n konvooi vertrek het na Makhanda.

Die trokke is deur die polisie en beamptes van die dorp se verkeersdiens die dorp ingelei.

By die munisipale kantore is Gift of the Givers deur afgevaardigdes van die munisipaliteit, insluitend raadslede, ontmoet.

Trokke het water vanaf Kaapstad, Johannesburg en Durban na Makhanda vervoer. Foto: Lulama Zenzile
Lede van die Suid-Afrikaanse Weermag het Gift of the Givers se werkers gaan help water uitdeel. Foto: Lulama Zenzile

Dr. Gideon Groenewald, ’n hidroloog, geoloog, paleontoloog en kenner oor die droogtekrisis in die Suidelike Halfrond, het hom by die groep aangesluit.

Groenewald het 35 jaar se ondervinding in die veld. Hy het plekke waar Gift of the Givers al 200 boorgate suksesvol geboor het met 90% akkuraatheid geïdentifiseer.

“Gift of the Givers het 200 boorgate in agt maande geboor en het 50 miljoen liter water per dag verskaf,” sê Sooliman.

Lede van die Suid-Afrikaanse Weermag het twintig werknemers van Gift of the Givers gehelp om die water uit te deel.

Meer as 80 000 mense van Makhanda-Oos en inwoners van 19 strate in Makhanda-Wes word geraak.

Die Setlaarsdam wat water aan die dorp voorsien, is slegs 13% vol, maar water kan weens die slik in die dam nie uit die laaste 10% gepomp word nie.

Die Waainek-watersuiweringsaanleg, wat water vanaf die

Howiesonspoortdam kry, ondervind weens ’n elektriese fout die afgelope paar dae probleme met die hoeveelheid water wat dit kan pomp.

Omdat die watervlak van dié dam skerp daal, gaan dié watersuiweringsaanleg, wat die westelike deel van die dorp daagliks van 8 megaliter water voorsien, na alle

waarskynlikheid moet toemaak.

Die Makhanda-waterkrisiskomitee het inwoners in die weste gevra om elke dag net 25 liter water per persoon te gebruik.

Meer oor:  Makhanda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.