Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Makhanda wag op geldhulp in waternood

Terwyl die Makana-munisipaliteit wag om geldhulp weens die droogte te ontvang, vererger vandalisme en arbeidsonrus die voortslepende waternood in Makhanda.

Groot dele van Makhanda is sedert vroeg Februarie sonder water weens die droogte en gebrekkige en verouderde infrastruktuur.

Die munisipale gebied Sarah Baartman, wat Makhanda insluit, is in die Staatskoerant tot rampgebied verklaar.

Inwoners van Makhanda kry gebottelde water by werkers van Gift of the Givers. Foto: Argief

Die burgemeester, Mzukisi Mpahlwa, het Donderdag in ’n verklaring gesê ’n klag van diefstal en vandalisme word ondersoek nadat by een van die munisipale depots ingebreek is.

Luidens Mpahlwa se verklaring het diewe petrol, olie en ’n gemonteerde trapleer, wat by die Botha’s Hill-reservoir gebruik word, gesteel.

Een van die loodgieters wat by die watersuiweringsaanleg gewerk het, se motor is ook gevandaliseer.

Gebottelde water word nou by skole afgelewer en vir diegene wat die jaarlikse Science Festival (Scifest) op die dorp bywoon.

Gift of the Givers het al boorgate in verskillende dele van die stad geboor, onder meer vier by Waainek en twee by die Rhodes-Universiteit.

Ook is ’n boorgat by die Setlaars-monument en twee by die Ntsika Secondary School geboor.

Nog vier gaan geboor word naby die Botha’s Hill-reservoir, een by die Katedraal en een by die Waainek-tronk.

Intussen het altesaam 32 van die 100 Jojo-watertenks wat Gift of the Givers as borgskap ontvang het, by Engen in Makhanda aangekom.

“Sodra die filtreerstelsels by die Rhodes- en Ntsikaboorgat in werking is, gaan die Jojo-tenks opgerig word sodat dorpenaars daar drinkwater kan kom haal.

“Gift of the Givers het ook twee watertenks gekry wat gereeld water gaan lewer. Die tenks gaan opgevul word met water vanuit die boorgate by die Rhodes-Universiteit, Setlaars-monument en die Ntsika Secondary School.

“Inwoners sal ingelig word oor waar die res van die watertenks opgerig gaan word,” sê Mpahlwa.

Hoewel dit nie ’n beduidende verskil gaan maak nie, het die onlangse reën die watervlak van die Howieson’s Poort-dam verhoog.

Bykomende krane word by Seven Fountains geïnstalleer en nog vier watertenks van 5 000 liter word in die omgewing opgerig.

Dié dam is 24% vol teenoor 18,3% verlede Vrydag.

Die reën het geen verskil gemaak aan die Settler’s-dam nie. Dit was Woensdag 9,2% vol.

Die Waainek-watersuiweringsaanleg pomp steeds nie water teen volle kapasiteit nie weens werk wat aan die filters gedoen word.

Net vier van die ses filters word gebruik, wat veroorsaak

dat watervoorsiening in die westelike dele van die dorp wisselend is.

Die James Kleynhans-watersuiweringsaanleg voorsien tans 5 megaliter gesuiwerde water per dag, want net een pomp word gebruik.

Die Amatola Waterraad is ingeroep om te help met die verbeterings by die James Kleynhans-watersuiweringsaanleg.

Volgens Bosch Projects is fase een van die opgradering by die aanleg 90% voltooi. Dit sal na verwagting teen 1 Mei heeltemaal voltooi wees.

Die kontrakteur gaan na verwagting op 2 Mei begin met fase twee. ’n Gedeelte van die werk by fase drie en fase vier is by fase twee ingesluit.

Mpahlwa sê ’n betonreservoir gaan in Fort Brown gebou word, wat beteken hulle behoort geen waterprobleme te ondervind nie.

Bykomende krane word by Seven Fountains geïnstalleer en nog vier watertenks van 5 000 liter word in die omgewing opgerig.

Meer oor:  Makhanda  |  Droogte  |  Waternood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.