Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
‘Moenie te opgewonde raak’ oor water in NMB
Mongameli Bobani (links), die Nelson Mandelabaai-metro se burgemeester, en Andile Lungisa (regs), burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese, op hul besoek Dinsdag aan die Impofudam. Die dam was ten tyde van hul besoek 31,2% vol. Foto: Lulama Zenzile

Terwyl amptenare van die Nelson Mandelabaai-metro ’n aanduiding gee dat hulle voor die einde van die week die waterbeperkings sal verslap, vra die departement van water en sanitasie vir die behoud van alle waterbeperkings.

Ná Dinsdag se besoek aan twee van die damme wat water aan die Algoabaai-waterstelsel vir die Nelson Mandelabaai-metromunisipaliteit voorsien, het Andile Lungisa, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese, gesê die streng waterbeperkings sal voor die einde van die week verslap word.

Waterbeperkings is ingestel nadat die hoofopgaardamme weekliks leër geraak het en geen noemenswaardige reën vir die gebied voorspel was nie.

Maar verlede week se goeie reënval, waar in sommige gebiede tot 200 mm reën gemeet is, het ’n skerp styging in damvlakke gebring.

Lungisa het Woensdag gesê hulle hoop om teen Vrydag ’n aankondiging rakende die waterbeperkings te doen.

Slegs ’n gedeelte van die waterbeperkings sal opgehef kan word, sê Lungisa.

“Ons doen nou berekeninge en vooruitskattings om die nuwe waterbeperkings aan te kondig.”

Maar inwoners van die Kouga-munisipaliteit, wat hul water van dieselfde waterstelsel as Nelson Mandelabaai ontvang, sê hul waterbeperkings is steeds geldig.

Horatio Hendricks, die Kouga-munisipaliteit se burgemeester, sê die gesamentlike damvlakke van die Algoabaai-waterstelsel het teen Dinsdag nog nie 40% bereik nie. “Dit beteken ons is nog nie uit die gevaarsone nie.”

Nadat die Kougadam, Hankey en Patensie se hoofwaterbron, tot onder 7% gesak het, is beurtwater ingestel.

Hendricks sê die damme behoort aan die departement van water en sanitasie en dit is hul mandaat om watersekuriteit vir alle Suid-Afrikaners te verseker.

“Die aanduiding van die departement van water en sanitasie is dat waterbeperkings nog nie verslap moet word nie en dit beteken die beurtwater sal vir nou steeds in Hankey en Patensie geld.”

Nadat die Kougadam, Hankey en Patensie se hoofwaterbron, tot onder 7% gesak het, is beurtwater ingestel en water is slegs enkele ure per dag in die twee dorpe se krane beskikbaar.

Samesprekings sal wel binnekort met die betrokke rolspelers gehou word om beurtwater af te skaf, nadat die Kougadam se watervlak teen Woensdag op 39% gestaan het, sê Hendricks.

Sputnik Ratau, departementele woordvoerder, het Woensdag ’n verklaring uitgestuur waarin hy die provinsie se inwoners vra om nie “té opgewonde” te raak oor die styging van die damvlakke nie en meen alle waterbeperkings moet steeds gehoorsaam word.

“Die provinsie is steeds ’n rampgebied, soos vroeër vanjaar deur die departement van samewerkende regering en tradisionele sake verklaar is.”

Volgens Ratau het verlede week se reën die Algoabaai-waterstelsel se gesamentlike damvlakke van 17,8% tot 39,9% laat spring en is dit ietwat beter as verlede jaar rondom dieselfde tydperk, toe die waterstelsel op 31,3% was.

Die Oos-Kaap se gesamentlike damvlakke het van verlede week af met bykans 5% gestyg en staan nou op 65%.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.