Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Moot-vrou wil met konserte geld vir boere insamel

’n Vrou van die Pretoriase Moot beplan ’n reeks konserte om geld in te samel vir boere wat gebuk gaan onder uitmergelende droogtes in verskeie dele van die land.

Lydia Veldman (65). Foto: Verskaf

Lydia Veldman (65) van Môregloed vertel sy het ’n paar weke gelede op die radio gehoor hoe sleg dit met sommige boere gaan.

“Hulle het gesê ons moet help. Toe ek die middag by die huis kom, het ek vir my man gesê ons moet iets doen.”

Veldman is nou afgetree, maar sy was vroeëre jare ’n onderwyseres en gee tans ekstra klasse. Sy sing self en is ook ’n orrelis aan die NG gemeente Pierneefrant.

Sy het vorendag gekom met die idee om ’n reeks konserte te hou om geld in te samel wat dan aan Droogtehulp SA geskenk sal word.

“Ek het ’n voorlegging gemaak aan die Moot vir Christus, die verteenwoordigers van al 84 kerke wat tans in die Moot is. Hulle het my idee gesteun en gesê hulle sal die konserte adverteer by al die kerke,” sê Veldman.

Veldman sê boere is die land se koskas en dat hulle baie swaar kry in dié stadium.

“Ek weet daar is baie mense wat sê droogtes kom en gaan. Dit is so, maar op sommige van dié plase het dit in agt jaar nog nooit gereën nie.”

Volgens Veldman het sy deur die projek waarin boksies met benodigdhede vir boervroue opgemaak word, gesien hoe swaar die boere werklik kry.

Ek het gesien hoeveel boere pleeg selfmoord omdat hulle dit net nie meer kan vat nie.

“Ek het gesien hoeveel boere pleeg selfmoord omdat hulle dit net nie meer kan vat nie. Ek het as kind ook ’n rukkie op ’n plaas saam met my ouers gebly wat dit ook so droog was. Die geblêr van die skape wat so honger is, maak ’n impak op ’n mens se lewe. Dit voel net vir my meer mense moet help.”

Droogtehulp SA sal bepaal in watter gebiede die nood die grootste is en die geld wat ingesamel word, sal dan daar verdeel word.

Die eerste konsert is op 23 Februarie in die Volle Evangelie-kerk in Gezina.

Die galakonsert sal by die Pierneefteater op 1 Maart plaasvind. Hier sal ook ’n veiling gehou word om geld in te samel.

By dié konserte is daar verskeie items op die planke, onder meer sang, tjello, klavier, viool en voordrag.

Mense wat die konserte wil bywoon, word gevra vir ’n donasie wat dan geskenk sal word aan Droogtehulp SA.

“Dié konserte is maar net die begin. Ek wil nog baie konserte dié jaar reël. Ons is op soek na nog kerke en kunstenaars wat betrokke wil raak by die konserte,” sê Veldman.

Mense wat meer oor die konserte wil uitvind of self wil betrokke raak as kunstenaars kan ’n e-pos stuur aan Veldman by lydiaveldman6@gmail.com.

Meer oor:  Geldinsameling  |  Boere  |  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.