Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
’n Bietjie water se vreugde in Karoo

Aan die buitewyke van die kurkdroë Beaufort-Wes het twee volwasse mans Donderdag van vreugde en verligting in die lug op gespring toe ’n tamaai fontein water die lug in skiet.

Dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers (links) en dr. Gideon Groenewald, ’n hidroloog, toon hul blydskap nadat water op Beaufort-Wes raakgeboor is. Foto: Tebogo Letsie

Die boorgat wat hulle aan't sink was, het water raakgeboor, 40 m onder die dorre grond.

Dit was ’n week nadat die dorp se hoofwaterbron, die Gamkadam, leeggeloop het.

Die twee mans is nie inwoners van dié Karoodorp nie. Een is dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, wat R6 miljoen opsy gesit het vir ’n boorgatprojek hier, en dr. Gideon Groenewald, ’n hidroloog wat ingeroep is om die water te kom soek.

Die sowat 6 miljoen liter water wat die dorp se 34 000 inwoners daagliks gebruik, kom uit altesaam 32 boorgate (80%) en ’n
rioolherwinningsaanleg wat gebou is nadat Beaufort-Wes in 2009 Dag Zero bereik het.

Tot hy leeggeloop het, het die Gamkadam sowat ’n miljoen liter water per dag verskaf. Nou raak selfs die grondwater op, namate die watertafel al hoe laer kruip.

“Die werklikheid is dat die waterdraer met 20 m gesak het tot 40 m, wat beteken ons moet al hoe dieper boor om water te vind,” sê Groenewald. As die ­reënval teen April nie drasties vermeerder nie – en dis droë maande wat voorlê – kan die watertafel tot by 60 m val.

Agri SA vra skenkings aan hul hulpfonds.

Die nuwe boorgate wat nou gesink word, is dus ’n saak van oorlewing.

Veral skaapboere veg nie net teen finansiële rampspoed nie, maar ook teen moed verloor.

“Jong, dis bitter droog,” sê
Déan Gous, voorsitter van die landbouvereniging. “Boere moes hul vee verminder. Dit veroorsaak weer kontantvloeiprobleme. Werke is ook dan in die gedrang en dit wil ons nie hê nie.”

In die afgelope ses maande was daar boere wat hulself om die lewe gebring het.

“Ander het opgehou boer en gaan werk. Dit is nou as jou ouderdom jou toelaat. Die dorp kry swaar,” sê Gous. “Hier is ’n winkel op die dorp waar jy jou vleis kan gaan koop en dit sommer net daar braai. Hulle is nie meer oop nie. Daar is nie meer lammers nie.

“Ons begin bekommerd raak. Die droogte het ons tot dusver fisiek geraak, maar dit gaan nou oor na die emosionele kant ook.”

Hein Rust, bestuurder van Sentraal-Karoo-rampbestuur, sê as die situasie in die dorp verder versleg, sal beurtwater ingestel moet word. Inwoners sal dan tot 36 uur op ’n slag sonder water wees. “As ons teen einde November nog nie reën ontvang het nie, gaan dinge baie kritiek wees,” sê Rust.

Intussen het Jannie Neuhoff, ’n boer van Delmas in Mpumalanga, verlede week 1 500 bale oulandsgras ter waarde van R500 000 aan Wes-Kaapse boere geskenk. ’n Konvooi van 30 vragmotors het Donderdag in Beaufort-Wes daarmee aangekom.

Boeta du Toit, uitvoerende hoof van Agri Noordwes, sê boere in die somerreënvalgebiede is ongelooflik gewillig om boere in die Kaap by te staan.

“Ons het die voer hierbo, so al struikelblok is om dit te vervoer. Daarom doen ons ’n beroep op mense om hul harte en hul beursies oop te maak,” sê Du Toit.

Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die droogte in die Wes-Kaap maak dood. Hy sê ’n “ekonomiese ramp” speel hom af.

Christo van der Rheede, uitvoerende adjunkhoof van Agri SA, wat sedert verlede jaar R17 miljoen aan droogtehulpverlening bestee het, het vir skenkings aan Agri SA se droogtehulpfonds gevra.

Meer oor:  Imtiaz Sooliman  |  Gift Of The Givers  |  Agri Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.