Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
N-Kaapse boere kry deel van droogtehulp

’n Gedeelte van die R35 miljoen-droogtehulpfonds wat vir boere van die droogtegeteisterde Noord-Kaap bewillig is, is uiteindelik beskikbaar gestel.

Noko Masipa, DA-lid van die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê dié geld is uiteindelik beskikbaar gestel nadat druk deur die landboubedryf en die DA op nasionale en provinsiale vlak op die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming geplaas is.

“Die geld is sedert Februarie te midde van die uitmergelende droogte teruggehou,” sê Masipa, wat die provinsie se droogte as die ergste in 100 jaar beskryf.

Sarel Burger, 'n boer van die Kalahari, gooi voer in sy beeste se voerbakke. Foto: Anena Burger

“Die uiterste swak koördinering van die ondersteuning aan die boere het die situasie in baie gebiede vererger. Pres. Cyril Ramaphosa het die Verenigde Nasies se beraad oor biodiversiteit op 30 September toegespreek, waarin hy gevra het dat klimaatvriendelike landboupraktyke geïmplimenteer word. Terwyl die DA hierdie uitgangspunt ondersteun, verwag ons dat die departemente vir landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming en ook samewerkende regering en tradisionele sake dit deurvoer, maar die departemente het hopeloos gefaal.”

Volgens die Junie-verslag van die vroeëwaarskuwingskomitee van die provinsiale rampbestuursentrum word vier gebiede steeds ernstig deur die droogte geraak. Vanwyksvlei, Springbok, Loeriesfontein en Kenhardt se reënvalsyfers was in die laaste vier jaar ver onder die gemiddelde langtermynreënvalsyfers.

Volgens die verslag word R413,1 miljoen oor ’n tydperk van drie maande benodig om ’n spoediger herstel ná die droogte te verseker.

“Volgens die verslag sal daar in die volgende ses jaar ’n jaarlikse verlies van R495 miljoen wees, tensy die regering ingryp. Dié verlies kan die hoogte inskiet met ’n totale verlies van R1,061 miljard as die landbougemeenskap in sy geheel in ag geneem word.”

Volgens die verslag sal 6 267 werke per jaar oor die volgende ses jaar verlore gaan as daar nie ingegryp word nie.

“ ’n Poging kon sekerlik al aangewend gewees het om hierdie verslag te oorweeg en minstens ’n deel daarvan te implementeer om die negatiewe effek van die droogte op die ekonomie teen te werk en die bloedbad van toekomstige werkverliese en potensiële voedselonsekerheid te voorkom,” sê Masipa.

Hy sê die DA herhaal sy versoek dat boere in die Noord-Kaap, Wes-Kaap, Noordwes en die Oos-Kaap die nodige ondersteuning moet kry.

“Die boere se skuld raak ondraaglik. Die nasionale tesourie was tot dusver hoofsaaklik afwesig met ondersteuning aan die landbou. In die verlede het die Landbank droogtehulpfondse gehad deur goedkoop lenings aan boere te bied, maar vir die Landbank om dit te kan doen, moet die gebiede eers as rampgebiede verklaar word. Die Landbank laat ons boere in die steek.”

Masipa sê boonop stel Moody’s se afgradering van die Landbank voedselsekerheid in gevaar.

Volgens die verslag sal daar in die volgende ses jaar ’n jaarlikse verlies van R495 miljoen wees, tensy die regering ingryp. Dié verlies kan die hoogte inskiet met ’n totale verlies van R1,061 miljard as die landbougemeenskap in sy geheel in ag geneem word.


Meer oor:  Droogte  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.