Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
’n Watertekort in SA? Man, ja en nee. . .
Foto ter illustrasie.

Die vernaamste oorsaak van Suid-Afrika se waterkrisis is nie die droogte nie, maar swak risiko­bestuur, ’n tekort aan kundigheid en infrastruktuur wat nie behoorlik in stand gehou en vernuwe word nie.

So sê Fred van Zyl, direkteur van strategiese beplanning by die departement van water en sanitasie (DWS) se hoofkantoor in Pretoria.

Van Zyl het Vrydag by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se geskiedenis­beraad oor waternood gesê ons het “kort geheues”.

“Almal dink die huidige droogte is die ergste ooit, maar wat van die droogte in 1983? Die riviere het leeggeloop. Maar ons was ­kreatief en ons het dit oorleef.”

Terwyl Suid-Afrikaners daarmee spog dat ons 30ste is op die lys van 200 lande met die minste water, is ons eintlik in ’n benarde 15de plek wat gewaarborgde waterlewering betref. Ons waterafloop is wispelturig en wisselvallig.

“Dit loop as dit ­reën en as dit klaar gereën het, is dit weg.”

Boonop is ons reënval 60% van die tyd onder die langtermyn­gemiddelde en tydens die afgelope droogte was dit 70%.

“Ons is dus 70% van die tyd in ’n droogtesituasie,” sê Van Zyl.

Die bou van nuwe damme – Suid-Afrika het tans sowat 700 – is ook nie die oplossing vir die waterverknorsing nie.

“Ruk eers die bestaande infrastruktuur reg. Ons moet wegbeweeg van die fokus op konstruksie na beter bestuur.

“Watersekerheid gaan oor risikobestuur. As ons waterwese en die stadsrade nie regruk nie, gaan ons niks bereik nie.”

Rapport het in Oktober berig dat munisipaliteite elke jaar tot 1 580 miljard liter water weens lekplekke en diefstal verloor – bykans dubbel soveel water as wat in die Vaaldam is.

Gemiddeld 35% (923,5 miljard liter) van al die metro’s se vars water gaan verlore weens infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie en water wat gesteel word. Volgens Van Zyl moet daar dringend by een uit elke drie dorpe se waterbron ingegryp word.

Hoewel 96% van Suid-Afrikaners toegang tot ’n kraan het, werk net omtrent 42% van dié krane. Dit is onder meer te wyte aan wateronderbrekings en wanfunksionele munisipaliteite, sê Van Zyl.

Prof. Francois Engelbrecht, klimaatsveranderingspesialis by die Wetenskaplike en Nywerheid­navorsingsraad (WNNR), het ook op die beraad gesê daar is tans ’n swak La Niña-verskynsel wat nat weer vir Suid-Afrika bring, maar dit is nog nie rede om vreugde­vure aan te steek nie.

Volgens hom is Suid-Afrika buitengewoon kwesbaar wat klimaatsverandering betref omdat temperature hier toeneem teen dubbel die tempo as in die res van die wêreld.

Prof. Kobus Botha, weerkenner van Pretoria en afgetrede dekaan van die fakulteit landbou aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie, het vroeër vandeesmaand aan Rapport gesê die land is in die algemeen baie beter daaraan aan toe as in Januarie verlede jaar. Die huidige La Niña-verskynsel gaan na verwagting neutraal word, wat die belofte van normale reënval vir die res van die seisoen inhou.

“Ek verwag die normale reënval sal moontlik tot Augustus of September kan voortduur,” sê hy.

Meer oor:  Droogte  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.