Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
NMB-metro: Lae damvlakke ‘is ’n krisis’

Die Nelson Mandelabaai-metro gaan strenger maatreëls begin instel om water te bespaar, aangesien daar net 20% bruikbare water in die vier hoofopgaardamme oor is.

Die gekombineerde damvlakke is 39,6%, maar die oorblywende 10% water kan nie uit die damme gepomp word nie, weens sediment wat in die water opbou.

Die metro se grootste bron van kommer is die Impofu-dam, (waaruit die metro die meeste van sy water kry) wat tot onder 20% gedaal het. Die Impofu-dam is nou 19,2% vol teenoor 19,7% verlede week.

Die Kouga-dam se vlak het die afgelope week gedaal van 41,6% tot 40,9%. Die meeste van dié dam se water word aan boere vir onder meer besproeiingsdoeleindes toegedeel.

Barry Martin, direkteur vir water en sanitasie, erken die situasie het krisispunt bereik.

Hy sê mense moenie geflous word deur die gemiddelde vlak van 39,6% nie omdat die metro se grootste dam, die Impofu-dam, se vlak kritiek laag is.

Daar moet eerder gekyk word na die beskikbare volume water. “Met die Impofu-dam op onder 20%, het dit dieselfde hoeveelheid water as wat die Kromrivierdam (voorheen die Churchhill-dam) het wanneer dit 90% vol is.”

“ ’n Mens kan die Kromrivierdam drie keer in die Impofu-dam pas, so dit wys jou net hoe min water ons eintlik het.”

Verkwisters sal moet hoes

Martin sê die metro oorweeg dit sterk om van tarief B na tarief C oor te skakel.

Dit sal beteken dat huishoudings wat nie hou by die perk van 50 liter water wat per persoon per dag toegelaat word nie, dit aan hul sak gaan begin voel.

Die metro se daaglikse verbruik is tussen 280 megaliter en 285 megaliter water per dag, sê Martin.

Feitlik ’n jaar gelede het die metro se gemiddelde damvlak tot 17% gedaal en tarief C is toe in werking gestel.

“Tarief C is egter in September verlede jaar opgehef toe ons reën kry, maar sedertdien het die waterverbruik weer toegeneem.

“Baie gesinne gebruik daagliks baie meer as die toegelate hoeveelheid water. Waterbesparing moet deel van ons daaglikse lewe wees. Ons is nog lank nie in ’n posisie om op ons louere te rus nie.”

APARTE KASSIE:

So het tarief C verlede jaar gelyk:

  • R17,23 vir die eerste 0,5 kiloliter (R13,75 met tarief B)
  • R34,84 vir die volgende 0,3 kiloliter (R17,24 met tarief B)
  • R69,68 vir die volgende 0,8 kiloliter (R38,33 met tarief B)
  • R232,26 per kiloliter vir enige bykomende waterverbruik (R116,14 met tarief B)

Waar lê die oplossing?

Martin sê Suid-Afrikaners moet ’n paradigmaskuif maak oor wat hulle as waterbronne beskou.

Hy glo die see is ’n waterbron, veral vir kusdorpe, en dat ontsoutingsaanlegte gebou moet word om seewater in drinkbare en skoon water te omskep.

In ag genome dat ontsouting ’n duur proses is, en dat deeglike beplanning en konseptualisering gedoen moet word, kan dié oplossing eers oor 20 jaar ’n werklikheid word.

In Februarie 2018 het die Coega-ontwikkelingskorporasie (COK) aangekondig die groen lig is gegee vir ’n omgewingsimpakstudie vir ’n ontsoutingsaanleg in sone 10 van die COK.

Die metro het ’n ooreenkoms met die COK dat die ontsoute seewater in die toekoms in ’n kwart van die metro se waterbehoeftes sal voorsien.

In Maart 2019 het ’n span kenners wat deur die metro aangestel is, ondergrondse waterbronne in die Coega-ontwikkelingsone gevind. Vyf boorgate is gesink.

Dié water gaan na die Coega-Kop-reservoir herlei word, en daarna na inwoners in Motherwell.

Die metro beplan ook om ’n suiweringsaanleg vir die boorgatwater te bou.

Die boorgate kan saam in tussen 5% en 10% van die metro se waterbehoeftes voorsien.

Bouwerk aan die Coega-Kop-reservoir sal volgens Martin teen 2021 afgehandel wees, sowel as fase drie van die Nooitgedacht-waterskema.

Amptenare van die metro se afdeling vir infrastruktuur en ingenieurswese het Dinsdag vergader met ’n span afgevaardigdes van Japan. Dit het verteenwoordigers van Marubeni Corporation, Hitachi en Toshiba ingesluit.

Die Japannese het die metro aangemoedig om openbare-private-vennootskappe te oorweeg vir die bou van ’n ontsoutingsaanleg in die metro.

Martin sê die Japannese finansier reuse-ontsoutingsaanlegte en -projekte.

Andile Lungisa, hoof van die metro se komitee vir infrastruktuur en ingenieurswese, sê amptenare gaan besoek aflê in Durban waar ’n ontsoutingsprojek tans aan die gang is.

Die metro gaan ook sy huidige waterbesparingsveldtogte opskerp deur meer bewusmaking te skep by mense om water spaarsamig te gebruik.

Meer oor:  Nelson Mandelabaai-Metro  |  Damvlakke  |  Droogte  |  Waternood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.