Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Nog water in Beaufort-Wes verwag

Die 3% water wat bespaar is tydens die eerste toepassing van beurtwater in Beaufort-Wes van Woensdagaand 22:00 tot Donderdagoggend 06:00 het geen beduidende invloed op die vlakke van die dorp se drie reservoirs gehad nie.

“Die reservoirs se vlakke was Donderdagoggend onderskeidelik 3,2%, 16,6% en 8%,” sê Marlene Hendricks, ’n munisipale woordvoerder gemoeid met water.

Nog water wat met vragmotors aangery word, word Vrydag in die dorp verwag, sê sy. “Die water sal gebruik word vir die reservoirs.”

Inwoners van hoogliggende gebiede is intussen gewaarsku dat hulle wateronderbrekings kan verwag. Die beurtwater is Woensdag ingestel en word volgens ’n skedule op verskillende datums in verskille woonbuurte toegepas.

Van links is Marlene Hendricks, Darren Richards en Marlene Molligan van die Beaufort-Wes-munisipaliteit met van die water wat deur die Gift of the Givers geskenk is. Foto: Jackie Kruger

Donderdag sou Gift of the Givers weer ’n vragmotor water na Beaufort-Wes stuur, maar die vragmotor het blykbaar buite Sutherland onklaar geraak. Die Cape Town Water Warriors het ook reeds water aan die dorp geskenk.

’n Spesiale raadsvergadering om die watersituasie te bespreek is nog nie gehou nie en dis nie bekend wanneer dié vergadering gehou sal word nie.

Die dorp het 39 boorgate waarvan 29 in bedryf is, maar vyf van die 29 gee ook probleme, het die Beaufort-Wes-munisipaliteit vroeër gesê.

Verkope van gebottelde water het drasties toegeneem, sê die verskaffers van Pure Bliss-water op die dorp by navraag.

Die watersituasie is vir hulle ernstig, sê Trudie du Wee, ’n inwoner. In hul huis bad al die kinders in een bad se water. “Ons het darem nog nie niks water gehad nie. Die waterdruk was net by tye al laag.”

Belinda Maans van die woonbuurt Mandlenkosi sê hulle was minder wasgoed om water te bespaar.

Volgens Hendricks word nog vrywilligers benodig om water in die gemeenskap uit te deel. Talle jong mense gee vrywillig van hul tyd om water uit te deel.

Woensdag is van die geskenkte water uitgedeel aan onder meer ouetehuise, skole en gastehuise.

“Dit is lekker om te help in so ’n tyd van nood,” sê ’n vrywilliger, Doneesha Steenkamp, wat Woensdag saam met Gift of the Givers water uitgedeel het.

Vlak 5-beperkings geld tans op Beaufort-Wes. ’n Beroep word weer gedoen op mense om ’n biddag vir reën om 16 September om 15:00 by die Rustdene-sportterrein by te woon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.