Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Oos-Kaapse boere sien uit na nog 'n nat naweek

Terwyl sommige Oos-Kaapse boere in die Karoo nog herstel van die afgelope naweek se stormreën- en haelskade, hoop hulle tog die weerman se voorspelling vir nog ligte reënbuie die komende naweek is akkuraat.

Die afgelope naweek se reën het die brug by die Rooikliprivier, wat ook as die Grootvleirivier bekend is, net duskant Steytlerville verspoel.

Boere in die Steytlerville- en Willowmore-distrik het die naweek ’n sug van verligting geslaak toe reën van tussen 40 mm en 60 mm op plekke gemeet is.

“Hoewel die hael ook maar skade in Steytlerville se distrik aangerig het en die stormreën heinings verspoel het, is dit welkome reën wat geval het. Daardie heinings kan weer reggemaak word,” sê Peter Knoesen, voorsitter van die Steytlerville-boerevereniging.

Hy sê hoewel daar op plekke net so 18 mm tot 20 mm gemeet is, het die droogste dele in die distrik meer as 40 mm reën ontvang.

“Die boere is al kaal gevoer aan die vee. Die reën sal ’n definitiewe impak maak, wat beteken die boere sal vir ’n tyd lank nie hoef te voer nie.”

Doug Stern, president van Agri Oos-Kaap, beaam dat die reën verligting sal bring vir boere, maar hy glo opvolgreën is nou broodnodig om die boere deur te trek.

“Ek is nou vol moed vir die reën wat vir die naweek voorspel word.”

Hy sê hoewel die afgelope naweek se reën net “kol-kol” geval het, reageer die veld reeds goed.

“Hier by ons (sowat 40 km buite Graaff-Reinet) het dit feitlik niks gereën nie, maar op my seun se plaas, 25 km verder soos die kraai vlieg (in die Sneeuberge), het dit sowat 80 mm gereën. Die reënval was eintlik baie vreemd, ons kan nou net hoop vir goeie, algemene, wydverspreide reën.

Die grondpad sowat 10 km verby Steytlerville in die rigting van die Winterberge was Maandag nog toe onder die reënwater van die afgelope naweek.

“Natuurlik hoop ons daarby vir opvolgreën wat binne tien dae of twee weke val. Die grond is so droog, daar waar dit 20 mm gereën het, kan die water nie gesien word nie, dit sak net weg. Opvolgreën sal die vogtigheid in die grond hou en die veld ’n goeie hupstoot gee.”

Ondanks die goeie reënbuie, dink Stern die droogte is nog ver van verby.

“Ons kan dit nog nie eens oorweeg dat die droogte gelig is nie. Op die oomblik spook ons nog om droogtehulp vir die boere by die provinsiale regering te kry. Ons hande word oral afgekap, maar ons gaan aanhou probeer,” sê Stern.

Intussen kom dit voor asof die reën van die afgelope naweek ook ’n uitwerking op die damvlakke van Oos-Kaapse damme gehad het. Die damme se gesamentlike gemiddelde vlak het met 2% gestyg sedert verlede week en staan vandeesweek op 58%.

Luidens ’n verklaring van die departement van water en sanitasie moet daar egter steeds meer gedoen word deur die regering, gemeenskappe en ander rolspelers om water te bespaar.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Landbou  |  Reën  |  Droogte  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.