Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Oranjerivier: Oesskade boere hier se voorland

Besliste oesskade en planne om die waterkrisis te oorkom is aan die orde van die dag by Aliwal-Noord in die Oos-Kaap, waar die Oranjerivier botstil staan.

Jakkie van Zyl, voorsitter van die Maletswai-sakekamer, sê hul harte gaan uit na die boere in dié distrik wat weens dié krisis geldelik ernstige skade gaan ly.

“Dit is heeltemal te vroeg om ’n aanduiding te gee oor bedrae en persentasies, maar daar is een boer wat baie spilpunte het en dit ís vir hulle ’n probleem.”

Links is die Vrystaat, regs die Transkei. Hierdie kloof, sê boere, sou ideaal wees vir ’n reusedam wat ’n uitkoms vir hulle sou wees. Foto: Marius Bekker

Hy het Donderdag met boere en die distriksmunisipaliteit vergader om oplossings te bespreek en was positief oor die planne wat daaruit voortgevloei het.

“Dit is nie net slim ingenieurspraatjies nie, maar praktiese stappe wat gedoen kan word om die waterkrisis op te los.”

Die munisipaliteit doen sy deel met die noodplan van die warmbronne op die dorp. Inwoners is wel bekommerd of dié water altyd veilig is.

Die Oranjerivier is aan die opdroog by Aliwal-Noord in die Oos-Kaap. Foto: Marius Bekker

“Vanuit die boorgate word water met vragmotors en tenks na dele sonder strukture gekarwei, hoewel die water baie min is.

“As ons dus weer só ’n krisis kry, sal dit vir almal makliker wees.”

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van menslike nedersettings, sê Verbeeldingskraaldam, die dam wat die regering al jare beplan om buite die dorp te bou, sal eers teen 2035 voltooi word.

Boere sê slegs ’n groot opgaardam sal die krisis kan verhoed. Intussen verdroog die lusern-oeste op die lande. Dit kan ’n groot probleem wees as die reën wegbly en veeboere in die Vrystaat, Noord-Kaap en Karoo dringend noodvoer benodig.

Terwyl die ongunstige klimaat in die meeste dele van die land voortduur, sê Ratau, sal hierdie dam ideaal wees om nog water en opbrengs van die Oranjerivierstelsel te bring.

Dit kan egter eers gebou word wanneer die Vioolsdriftdam laer af in die Oranjerivier voltooi is. Suid-Afrika en Namibië kyk glo saam na planne vir dié dam.

Hoewel die damme, wat die meeste van die stedelike gebiede se water voorsien, op redelike vlakke is, is daar groeiende kommer dat die begin van ’n reusedroogte die land bedreig.

Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê daar is ’n moontlikheid vir reën in die tweede week van November oor die sentrale en oostelike dele van die somerreënvalgebied.

“Toestande vir reën behoort teen die middel na die tweede deel van die somer, Desember tot April, te verbeter.”

Een van die hoofpype wat water na die dorp lei, het so gelek dat daar geen watertoevoer was nie. AfriForum het Donderdag gehelp om die probleem op te losFoto: Verskaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.