Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Oranjerivier: Oorlog dreig oor laaste druppels water

Boere wat langs die Oranjerivier by Aliwal-Noord grond het, sê ’n oorlog is aan die kom met die waterkrisis hier weens die rivier wat vinnig opdroog.

Dit kom nadat ’n boer homself om die lewe gebring het, glo omdat sy hoofinkomste van aangeplante voer was en sy pogings glo onsuksesvol was om die departement van water en sanitasie oor die erns van die probleem te oortuig, sê Koos Odendaal, sekretaris van die Oranje-Kraai-opvangsgebied se bestuursforum.

Die stryd oor spilpunte, waterregte, die toepassing van waterbeheer en om die laaste bietjie water uit die sand te onttrek, ruk handuit.

Odendaal sê die Oranjerivier hier is steeds dolleeg.

“Ons gebruik die warmwaterbronne in die dorp (Aliwal-Noord) se water. Dis al water wat die dorp in dié stadium het.”

Hulle lê nou pype aan om die water, wat tot onlangs toe nog in die vleiland ingeloop het, na die waterwerke te gelei.

Die munisipaliteit reken dit is 10% van die normale vraag waarin hulle voorsien, maar is darem ’n konstante bron.

Odendaal sê hul grootste bekommernis is die damme wat in Lesotho gebou word.

Die Katsedam se tweede fase veral skep nou ’n probleem.

Hulle het ’n voorlegging aan die departement gedoen in ’n hernude poging om die Verbeeldingskraaldam tussen Aliwal-Noord en Zastron in die rivier gebou te kry.

Die Oranjerivier is so te sê “dolleeg”, sê boere hier wat nou ondergrondse water met pype ontgin sodat hul vee en gewasse kan oorleef. Hierdie foto is by Zastron in die Vrystaat geneem. Foto: Felix Dlangamandla

Dr. Pululu Mahasa van die departement geografie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê die probleem is baie ernstig weens die groot toename in die bevolking van Lesotho en Suid-Afrika.

“Ek was verlede naweek in Lesotho. Daar is ’n watertekort in Mokhotlong, wat baie naby aan die Oranjerivier se oorsprong by Thabana Ntlenyana is.

“Die hooftoevoer van die rivier in Lesotho word in Suid-Afrika beheer. Die volumes water wat herlei word, word aan die Suid-Afrikaanse kant beheer, terwyl Lesotho liederlik daarin faal om ekologiese vloei te verseker.

“Hou in gedagte dat die magtige Oranjerivier steeds 2 000 km ver na Alexanderbaai aan die Atlantiese Oseaan strek.

“Dit moet steeds water aan die Laer Oranjerivier-waterbestuursgebied in Suid-Afrika, Botswana en Namibië voorsien.”

Dit is baie moeilik om te monitor, sê Pululu, aangesien die meeste plase private grond is en elke plaas se waarde gekoppel is aan die waterkwota-lisensie.

Om oor te skakel na grondwaterbronne is volgens haar ’n langtermynoplossing aangesien dit vir lang tydperke vee kan onderhou.

Mike Muller, ’n siviele ingenieur en voormalige direkteur-generaal van die departement water, en wat nou aan die Universiteit van die Witwatersrand verbonde is, skryf in ’n artikel op The Conversation die onderliggende probleem is eerder onkunde.

“Suid-Afrika het nog nie ’n absolute watertekort nie. Maar die omvang van die paniek onder die publiek suggereer ’n ontstellende vlak van onkunde oor hoe water beskikbaar gemaak word en wat gedoen moet word om genoeg en betroubare bronne te verseker.”

As daar meer sekerheid kon wees oor wat die weer in die toekoms inhou, sou daar minder kommer wees.

“Maar dit is nie die geval nie.”

Meer oor:  Oranjerivier  |  Aliwal-Noord  |  Droogte  |  Boere  |  Landbou  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.