Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Ouma Serdyn se skapies help droë Sutherland

Hoe veg mens teen die ysere greep van droogte op die Karoo en sy skaapboere? Jy bak en verkoop koekies en hekel wolskape.

Magriet Serdyn (79) en haar kroos gehekelde skapies. Foto: Edrea du Toit

Derick Hanekom, ’n boer van die Sutherland-omgewing, sê boerdery vir die sowat 135 boere in die distrik het nou verskuif van die veld na die plaashuis – “om ons kudde aan die lewe te hou”.

Die Save the Sheep-veldtog, waarvan Hanekom die finansiële hoof is, is een so ’n poging waarmee geld ingesamel word om veevoer te koop.

Die Karoo is in sy agtste jaar van droogte, die ergste droogte in 220 jaar. Die Sutherland-distrik het ’n dravermoë van sowat 400 000 skape, maar tans is daar slegs 60 000 skape oor. Dis daarom vir boere van kritieke belang om hul kernkudde lewend te hou.

“Die boere hier is finansieel op hul knieë, hulle is verby die emosionele, dis nou om oorlewing.”

Hanekom bly vir rukke net stil, voor hy skor voortgaan.

‘Die Here het my handige hande gegee.’

“Ons het in 2018 hulp van die staat gekry, wat net drie maande gehou het. Einde verlede jaar het ons so 23 sakke mielies per boer gekry. Dis nie eens ’n week se voer nie. Die skape moet elke dag gevoer word, net om ons bydrae tot die nasionale voedselmandjie te beskerm.”

“Save the Sheep het verlede week R200 000 se mielies vir boere gekoop. Ons probeer elke twee tot drie weke voer verskaf aan ons boere in Sutherland. Geskenkte voer raak al hoe minder en ons moet deurlopend voer inkoop. Ons is aangewese op skenkings en donasies. Sutherland het R60 miljoen nodig om hierdie jaar te oorleef.

Een van Save the Sheep se heldinne is die 79-jarige Magriet Serdyn van die plaas Weltevrede, buite Riebeek-Wes in die Swartland. Dié formidabele ouma en voormalige Vrystaatse onderwyseres hekel sedert Augustus verlede jaar wolskape. Rapport het Serdyn Donderdag op ’n bloedig warm dag op haar plaas besoek.

“Ons baklei hier self teen droogte. Verlede week moes ons R18 000 se dorpwater koop – die boorgatwater is te min,” vertel sy terwyl haar 82-jarige man, Nicol, eenkant geduldig sit en na alles luister.

Die eerste skapie vir die veldtog is in 2017 deur Sybil Visagie gehekel. Later, toe deelnemers aan Jan Braai se gewilde TV-realiteitsreeks ook so ’n gehekelde skaap soek, het sy vasgedraai en dis toe dat Serdyn hand opsteek en sê: “Gee my die patroon”. Sy het die skaap voltooi en toe byt die gogga: Sy wou nóg skape hekel!

“Ek is ’n crafter. Ek maak boerseep en serpies wat jy in water doop om koel te bly. Die Here het my handige hande gegee. Ek moet vir Hom dankie sê. Kyk, dis ’n bietjie PT, jy moet konsentreer, die steke tel. So, jy kan nie altyd in geselskap sit en hekel waar jy gesteur word nie.” Haar man sê hy weet presies wanneer om stil te bly!

Serdyn se werkdag begin al 03:00 soggens. Dit neem haar 16 uur om een skapie te hekel. “Daar is nie ruimte vir knoeiwerk nie. Kwaliteit!”

Hanekom sê hulle is diep dankbaar vir tannie Magriet se liefdestaak.

* Besoek savethesheep.co.za of stuur ’n e-pos na admin@savethe-sheep.co.za. Jy kan ook geld skenk deur backabuddy.co.za/drought.

Meer oor:  Sutherland  |  Droogte  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.