Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Qwaqwa: waterwoede duur voort

Teiken korporatiewe ondernemings sodat “wittes” druk op “hul Ramaphosa” sal sit om die probleem op te los, sê ontevrede gemeenskapsleiers in ’n boodskap oor die voortslepende waterkrisis in Qwaqwa.

Die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, se besoek verlede week aan Qwaqwa het blykbaar tot meer woede as die kalmering van gemoedere gelei.

’n Boodskap het Vrydag die ronde gedoen waarin radikale gemeenskapsleiers inwoners aanmoedig om Maandag die N3 af te sper en korporatiewe ondernemings te plunder.

Maandag se protesaksie is afgelas nadat die polisie van die radikale leiers in hegtenis geneem het.

Qwaqwa, waterkrisis
Die atmosfeer in Qwaqwa was Maandag stil, maar gespanne nadat vroeër weer met massaoptrede gedreig is. In die agtergrond is een van die vragmotors waarmee kontrakteurs water aanry. Inwoners sê waterverskaffing in die gebied word in die wiele gery sodat die eienaars van dié vragmotors water kan aanry en hulself kan verryk. Foto: Verskaf

Sisulu se besoek word volgens die gemeenskap as ’n belediging gesien en dat sy nie met hulle vergader het nie, maar gekom het om hulle te stoomroller, word in ’n boodskap gesê.

Sisulu se uitlating dat daar nie geld vir ’n pypleiding is nie en dat die regering 5 000 watertenks in die gebied sal plaas, word as ’n klap in die gesig gesien.

Bewerings dat sluise by die Fika-Patso-dam doelbewus oopgetrek word sodat vragmotoreienaars water teen betaling kan aanry, veroorsaak ook groot spanning in Qwaqwa.

’n Gemeenskapsaktivis, Magentz Sebego, het ’n video op Facebook gedeel waarin gesien kan word hoe water by die Fika-Patso-dam by ’n oop sluis uitspuit.

Sowat 80% van Qwaqwa se inwoners is afhanklik van water uit dié dam.

Sisulu het verlede week gesê die regering sal die vragmotors by die eienaars koop en self die water verskaf.

Sy het ook beloof dat die waterkrisis binne ’n week opgelos sal word en dat ’n komitee reeds vandeesweek sal vergader.

Leona Kleynhans, DA-lid van die provinsiale wetgewer, sê die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit het nagelaat om die nodige waterinfrastruktuur in die gebied te bou en het so toegelaat dat ’n krisis hier ontstaan.

Die Fika-Patso-dam is volgens haar in elk geval nie groot genoeg om aan die gebied se waterbehoeftes te voldoen nie.

Kleynhans sê die munisipaliteit weet sedert 2004 dat die Fika-Patso-dam nie genoeg water vir al die inwoners van Qwaqwa kan verskaf nie.

Die krisis tydens die droogte in 2015 moes as ’n wekroep vir amptenare gedien het.

Geld wat vir die projek bewillig is, is eerder deur die voormalige burgemeester, Vusi Tshabalala, en sy uitvoerende komitee vir salarisse en partytjies gebruik.

Kleynhans sê die ANC-raad het nie net nagelaat om die nodige infrastruktuur te ontwikkel nie, maar boonop geld geplunder wat vir die krisis, wat hyself geskep het, bewillig is.

Die nasionale regering en die Nasionale Lotery het in 2016 geld bewillig sodat 60 boorgate in die gebied geboor en toegerus kon word.

Volgens Kleynhans kon net 21 van dié boorgate gevind word.

Die gebied se rioolvuil loop volgens die munisipaliteit se eie verslae regstreeks in riviere in. Dit is dieselfde riviere wat inwoners noodgedwonge moet gebruik vir huishoudelike water.

Sy sê net grootskaalse investering in die gebied se infrastruktuur sal die probleme oplos.

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Qwaqwa  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.