Die Raubenheimerdam in Oudtshoorn is tans 30,89% vol nadat herstelwerk aan die dam se hoofpypleiding voltooi is.
Die dam is Oudtshoorn se vernaamste waterhulpbron.

Die Raubenheimerdam in Oudtshoorn.
Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit se kommunikasieafdeling is die Mellvilledam (wat 5% van die Raubenheimerdam se kapasiteit is) 100% vol. Die gekombineerde watervoorraad beloop dus 35,89%, sê Aurelia Oliphant, munisipale woordvoerder.
Die herstelwerk aan die pypleiding in ’n tonnel onder die dam het Maandag begin en tot 11 Junie geduur.
Die herstelwerk het onder meer boorwerk, die wegbreek van die beton, die uithaal van die stukkende pyp en die insit van ’n nuwe pyp behels.
Vlak 1-waterbeperkings is tans van krag in Oudtshoorn se munisipale gebied.
“Ons vra asseblief dat mense water moet bespaar,” sê Oliphant.
Die waterbeperkings bepaal onder meer dat geen motors met ’n tuinslang gewas mag word nie. Geen geplaveide, beton of geteerde oppervlaktes en strukture mag met ’n tuinslang skoongespuit word nie, behalwe by ’n onderneming waar dit vir bedryfsdoeleindes benodig word.
Die besproeiing van tuine word slegs toegelaat tussen 08:00 en 10:00 en tussen 16:00 en 18:00 op alternatiewe dae drie dae per week. Eiendomme met gelyke straatnommers word toegelaat om tuine tussen bogenoemde tye op Maandae, Woensdae en Vrydae te besproei en eiendomme met ongelyke straatnommers tussen bogenoemde tye op Dinsdae, Donderdae en Saterdae.
Mense wat die waterbeperkings oortree, kan ’n kitsboete van R1 000 opgelê word.