Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Reën: Boere in wedloop teen tyd

Boere in die somerreënvalstreek is in ’n wedloop teen tyd gewikkel. As dit nie binnekort goed reën nie, gaan hulle nie betyds hul somergewasse geplant kry nie.

Veeboere is terselfdertyd bekommerd oor die toestand van die veld.

Die boere se hoop is nou op die moontlikheid dat die eerste goeie somerreën binne die volgende maand kan val.

Gebede vir reën en voorspoed in die land. Viljoenskroners in die Vrystaat bid sedert verlede Vrydag elke weeksdag omstreeks 17:30 op die dorp se rugbyveld. Lucas Steyn, ’n mielie- en sonneblomboer in dié gebied, sê inwoners bid nie net vir reën nie, maar ook vir voorspoed in die land. Steyn sê die grootste gedeelte van die landerye is nog nie bewerk nie. “Die grootste gedeelte van Viljoenskroon sit met ’n massa werk wat basies in twee weke se tyd gedoen moet word, as die reënval die naweek realiseer.” Foto: Anél Coetzee

Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê volgens die weerpatrone is daar nog ’n redelike kans vir reën in die tweede helfte van vandeesmaand en in Januarie.

“Maar as dit nie in die volgende twee weke reën nie, is daar ’n baie groot krisis.”

Volgens Kevin Ingram van die Bloemfonteinse weerkantoor kan ligte buie van Donderdag tot Maandag in die oostelike en sentrale dele van die Vrystaat en Noordwes, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die oostelike dele van die Wes-Kaap uitsak.

“Dit sal waarskynlik nie baie wees nie. Die meeste gebiede sal net ’n paar millimeter kry.”

In die Noord-Kaap is daar slegs Vrydag ’n 30%-kans op reën. Die meeste reën word in Mpumalanga en KwaZulu-Natal verwag.

Corné Louw, landbou-ekonoom by Graan SA, sê: “Dit is moeilik om te sê daar is ’n plek in die land waar dit goed gaan. Dit is oor die land heen verskriklik warm en droog.”

Louw en Van den Berg sê veral Oos-Vrystaatse graanboere is in die knyp. Die gunstigste planttyd hier is reeds verby en van die boere kon nog net tussen 20% en 50% plant.

Van den Berg sê die sojabone moes al van laat November op die landerye in die Oos-Vrystaat gestaan het, maar talle boere kon nog nie plant nie. Die mielies moes al vandeesweek begin opkom het, wat ook nie die geval is nie.

Louw sê die ander dele van die Vrystaat en Noordwes is ook steeds bitter droog, maar hier het boere darem nog tot einde Desember om te plant. Die Vrystaatse boere kon nog net sowat 5% van hul somergewasse plant en die Noordwes-boere kon bykans nog niks plant nie.

“Die tyd raak al hoe minder. Sou hulle betyds genoeg reën kry, gaan hulle in ’n baie kort tydjie baie hektare moet aanplant. As hulle nie betyds geplant kry nie, gaan ons sukkel om genoeg graan vir die land te produseer. Boere wat laat plant, loop die gevaar van laer opbrengste as normaalweg,” sê Louw.

Hy sê boere hoop en bly glo dat genoeg reën sal val om betyds te kan plant.

Van den Berg sê sou dit binnekort goed reën, gaan boere in Noordwes en die Wes-Vrystaat baie gou moet speel om betyds geplant te kry.

“Die grondvog is min en in baie dele kon landerye nog glad nie bewerk en voorberei word nie. As dit reën, gaan hulle eers die landerye moet regkry.

“Ons het in die verlede al sulke tye en laat reën ervaar waarin boere tog kon plant. Die kans is daar, mits daar binne die volgende drie weke minstens 50 mm tot 100 mm reën in die droë dele val,” sê Van den Berg.

Louw sê in Mpumalanga het die meeste boere reeds klaar geplant. Mielies en sojabone wat in dié gebied laat aangeplant is, het egter weens die uitermatige warm dae nie opgekom nie. Hierdie boere wag nou ook op reën om weer te kan plant.

Van den Berg sê weiveld in groot gedeeltes van die land is ook swak. Die grootste krisis is in dele van die Karoo, Boesmanland en die westelike en sentrale gedeeltes van die land.

Die uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), Gerhard Schutte, sê die uitwerking van die droogte op weiveld noop boere reeds om voer te koop.

“Ons sien klaar dat voerpryse deur die dak skiet en dit gaan weer ’n groot uitwerking op die kontantvloei van rooivleisboere hê.

“Ons is almal optimisties dat al is die reën laat, dit tog landwyd sal val.”

Meer oor:  Plant  |  Tyd  |  Boere  |  Somergewasse  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.