Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Reën bring luide ‘applous’ uit Karooveld

As die Karooveld kon hande klap, sou alles daarin luide applous gegee het.

Só het Philip Theunissen, eienaar van die Bhejane-wildreservaat, sowat 50 km van Willowmore, Maandag gesê ná die naweek se opvolgreën in dié droogtegeteisterde distrik van die Oos-Kaap.

Ongeveer 10 mm reën het Sondag op die plaas geval ná 42 mm die vorige naweek.

“Hierdie is ’n groot seën vir ons. Die bome en veld het weer kleur, dit is die opvolgreën waarop ons só gehoop het wat ons nou gekry het,” sê Theunissen hoorbaar opgewonde.

Sowat 35 km voor Jansenville, op die plaas Klein-Blaauwkrantz, het die sluise van die hemele Sondag ook skielik oor die plaas oopgemaak en 36 mm reën het binne 10 tot 15 minute geval.

“Dit was wind, reën en hael, alles gelyk,” sê Jay Oelofse, boer en eienaar van die plaas.

Die stormsterk wind het ’n kragpaal op die plaas omgewaai, terwyl die hael verdere verwoesting gesaai het.

“Hier is omtrent 100 ruite uit, dit is nou van die huis, stoor en plaaswerkers se huise. Dit was rof, maar ons is baie dankbaar oor die reën.”

Maar die grootste verrassing vir Oelofse was die hoeveelheid water wat in die Driekopsrivier, ongeveer 8 km van sy plaas, afgevloei het.

“Ek het daardie rivier nog nie só gesien nie. Dit het gelyk of die rivier uit sy nate wil bars.”

Maar skaars 10 km van Theunissen se plaas, in die Fullarton-gebied, het dit slegs plek-plek goed gereën.

Volgens Waldo Strydom, ’n boer van Fullarton, is daar dele wat slegs 12 mm reën gekry het, teenoor gebiede wat tussen 40 mm en 50 mm reën gehad het en ander weer niks.

“Dit is nat vir 40 km van die pad en dan vir 10 km is dit kurkdroog,” sê Strydom.

Sowat 150 km verder noord, in Graaff-Reinet, is net meer as 44 mm gemeet, het Garth Sampson van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Port Elizabeth gesê.

Buiten vir die goeie reën in die Karoo is bykans 16 mm se reën in Oos-Londen gemeet en 19,6 mm in Uitenhage.

Hoewel daar slegs 12,8 mm vir Sondag by die lughawe in Port Elizabeth gemeet is, het sagte deurdringende reën Maandagoggend steeds in dié stad geval.

Teen Maandagmiddag het die reën veel harder uitgesak, met laagliggende dele van die stad se paaie wat oorstroom was, veral in die Newtonpark-gebied.

Volgens Sampson word ’n paar ligte reënbuie nog vir Dinsdag langs die kus voorspel, met enkele donderstorms wat oor die binneland vir Vrydag voorspel word.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Willowmore  |  Reën  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.