Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Reën, droogtehulp tot boere se redding

Vooruitsigte op reën vir die sentrale en westelike binneland lyk positief, veral vir die Vrystaat.

Tonie Rossouw van die weerkantoor in Bloemfontein sê dit lyk na goeie, tipiese Februarie-reën wat op pad is.

“Verlede naweek het vogtige lug suidwaarts van Namibië beweeg, wat ’n goeie teken is.”

Altesaam 52 vragmotors noodvoer was Vrydagoggend na onder meer die Oos-Kaap, Noordwes en selfs Namibië onderweg om boere in nood by te staan. Foto: Mlungisi Louw

Binne ’n kwessie van sewe dae kom dié seldsame verskynsel weer voor, sê hy, wat ’n aanduiding op bonormale opvolgreën is.

Die vogtige lug gaan oor die westelike deel van die binneland ooswaarts beweeg en behoort Maandag of Dinsdag op te klaar in die weste.

“Ons behoort reën te kry, dit gaan lekker verspreid voorkom.”

Of dit in die uiters droë gebiede gaan reën wat nog nie reën gekry het nie, kon hy nie sê nie.

“Die seisoenale voorspelling gee weens die swakkerige El Niño oor die Stille Oseaan ’n vae aanduiding vir bonormale reën.”

Rossouw sê al reën dit in die droë gebiede, moet ’n mens onthou dat “dit nooit gras reën nie”.

“Grond neem twee tot drie weke om te herstel. Droogtehulp is absoluut noodsaaklik.”

Boere van Frankfort het kragte met Droogtehulp met Burre Burger en georganiseerde landbou saamgespan om 32 vragmotors noodvoer na Aberdeen in die Oos-Kaap by te staan. Hulle het Vrydagoggend in Bloemfontein volgemaak. Van links is Franco Bezuidenhout, Jannie Schabort, Willie Venter en Tiaan Muller.Foto: Mlungisi Louw

Altesame 56 vragmotors met noodvoer is Vrydagoggend na droë dele soos Aberdeen in die Oos-Kaap, Tosca in Noordwes en selfs die Karasburg-distrik in Namibië.

Die woorde “Droogtehulp met Burre Burger” is op hoë stapels bale geskryf.

“Dit is ons eie staatsrede,” sê Burger ’n dag ná pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede in die parlement in Kaapstad. Burger ry met sy droogtehulp-projek gratis vir boere noodvoer aan.

’n Groep boere van Frankfort in die Vrystaat, waar dit goed gereën het, was reeds Vrydagoggend om 02:00 uit die vere sodat hulle teen 08:00 in Bloemfontein brandstof kon ingooi om die boere by Aberdeen met 32 vragmotors voer te verras.

Jaco Hatting, ’n boer van Frankfort, sê hulle het twee weke gelede met Burger vergader om die besending te reël.

“Ek het vir Burre gesê ons moet gróót gaan.”

Vandaar het hulle hande met georganiseerde landbou gevat om die besending na Frankfort ’n werklikheid te maak.

Vrydagoggend het 32 vragmotors in Bloemfontein stilgehou om diesel in te gooi. Boere van Frankfort het met Droogtehulp met Burre Burger en georganiseerde landbou hande gevat om die besending ’n werklikheid te maak. Foto: Mlungisi Louw

Ook die Shimlas, rugbyspan van die Universiteit van die Vrystaat (UV), het op die spreekwoordelike wa geklim en koeldrank vir die vragmotorbestuurders in Bloemfontein uitgedeel.

Jannie Schabort van Frankfort se boerevereniging sê die Here het dit op hul hart gedruk om die boere in die Karoo te help nadat hulle goeie reën gekry het.

Liezl Wiese, DIY Superstores se finansiële bestuurder, is “super trots” dat die vragmotors diesel by dié kettinggroeponderneming ingegooi het.

Sy sê daar het skenkings vir die diesel uit alle oorde gekom.

“ ’n Oom van 85 uit die Kaap het gebel en gesê hy wil sommer dadelik ’n betaling doen.”

Dan Kriek, AgriSA se president, sê hoewel pres. Ramaphosa se verbintenis om die Suid-Afrikaanse skip uit die moeilike waters te stuur geprys kan word, dit jammer is dat die droogtekrisis nie met sy staatsrede aandag geniet het nie.

“Dit is kommerwekkend dat hy niks genoem het oor die erge en voortslepende droogte wat verskeie provinsies raak nie.”

Meer oor:  Bloemfontein Weerkantoor  |  Tonie Rossouw  |  Droogtehulp  |  Reën  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.