Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Reën val plek-plek in Noord-Kaap

Almal se gemoed verander wanneer daar reën in die grond is, sê Lizette Knoetze van die plaas Rooipan in die Kalahari waar dit die naweek tot 50 mm gereën het.

Goeie reën het die naweek in dele van die Noord-Kaap op van die droogste plekke in die land uitgesak.

Milde reën word nog tot minstens Donderdag vir veral die oostelike dele van die Noord-Kaap en dele van die Vrystaat voorspel.

Nattigheid Sondag tussen Springbok en Pofadder.Foto: J.W. van Zyl

Lizette en haar man, Daantjie, boer 120 km buite Upington. Op hul grond het dit 11 mm tot 50 mm gereën. Lizette sê die buie was Sondag van omstreeks 03:00 tot 07:00.

“Ons is baie opgewonde, omdat dit die eerste reën vir die seisoen is ná ’n droogte van tussen vyf en sewe jaar,” sê sy.

“Dit was redelik wydverspreid, ek skat dit was miskien oor ’n gebied van sowat 50 km.”

Lizette sê 35 mm is vroeër die seisoen by hul huis gemeet, maar die reën wat Sondag uitgesak het, was die eerste in die veld.

Lisa Burger (11) en haar hond, Rupert, van Blaauwskop sowat 30 km buite Upington geniet die modderpoele nadat dit Sondag heerlik in die streek gereën het. In die agtergrond speel die hond Lola. Foto: Anena Burger

“Die skape is maar ’n derde van dit wat die plaas eintlik kan dra soos wat ons dit met die tyd verminder het.” Die beeste wei reeds drie jaar op huurgrond.

Kobus Barnard het Maandag op die Facebook-groep Reënval en foto’s in die Kalahari geskryf tussen 25 mm en 45 mm reën is 65 km noord van Upington gemeet.

Kobus Barnard het dié foto Maandag op Reënval en foto’s in die Kalahari geplaas.Foto: Facebook

Retha Compion van die Pofadder-landbouvereniging sê Aggenys, sowat 60 km van Pofadder af, het die naweek sowat 60 mm reën ontvang. Sy sê Aggenys het sedert Januarie sowat 90 mm reën gekry.

Compion sê dié deel, tussen Pofadder en Springbok, is seker die droogste deel in die land.

Lisa Burger (11) van Blaauwskop sowat 30 km buite Upington geniet die water nadat milde reën Sondag hier ná ’n week van versengende hitte uitgesak het. Foto: Anena Burger

Dit het plek-plek in die distrik gereën. Compion sê die plase suid van die N14 het nie noemenswaardige reën gehad nie en ’n handjievol plase het tot 10 mm gemeet.

Verder suid het dit ook lekker gereën.

Op De-Manndi en JP Symington se plaas, Bankdrif, in die Sutherland-distrik is 16,5 mm reën Saterdag en Sondag gemeet.

“Ons is baie dankbaar en bly vir opvolgreën bid,” sê De-Manndi.

Kobus Barnard het dié foto Maandag op Reënval en foto’s in die Kalahari geplaas. Hy sê tussen 25 mm en 45 mm is 65 km noord van Upington gemeet. Foto: Facebook

Die Symingtons boer 65 km buite Sutherland met skape. Sy sê daar is egter baie boere in die distrik wat geen reën gekry het nie.

Willem Burger van die plaas Skansboom, sowat 40 km vanaf Middelpos, het tussen Saterdag en Sondag 10 mm gekry.

Ds. Suléne du Toit sê 11 mm is Sondag op Fraserburg gemeet en in die omstreke het die reënval tussen 4 mm en 30 mm gewissel.

Du Toit sê hulle is dankbaar oor die reën. Daar is wel plase in die gebied waarop dit nie gereën het nie.

Hannes Hansie van Zijl het Maandag dié foto van donderwolke tussen die Khumani-myn en Kathu op Facebook geplaas.

Groblershoop, Delportshoop, Douglas, Hopetown, Kimberley, Kathu, Kuruman, Griekwastad, Warrenton en Postmasburg is ook onder die plekke wat reën gekry het.

Michael Nethavani van die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê dit is ’n goeie reënweek vir die streek met genoeg vog in die lug.

In die Noord-Kaap word reën veral in die oostelike deel verwag, met ook ’n kans in die noorde.

Wat die Vrystaat betref, sê Nethavani die kans op reën in die westelike en sentrale deel lyk Dinsdag goed. Die reën sal Woensdag na die Oos-Vrystaat uitbrei.

Die weer oor die hele streek sal na verwagting teen Donderdag begin opklaar.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Reën  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.