Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Selfs al reën dit, bly damme leeg

Selfs al reën dit katte en honde sal inwoners van die noordelike provinsies als in hul vermoë moet doen om water te bespaar.

’n Plaas met droë grasvelde langs die R42 tussen Bronkhorstspruit en Delmas. Somerreëngebiede het nog nie hierdie seisoen voldoende reën gekry nie. Foto: Deaan Vivier

Darryl Moss, waterkenner en bestuurder van die besparingsprojek #SurplusWater 2025, sê net 15% van reënwater beland in die damme.

“Ons gaan baie hard moet werk om die verskil op te maak,” sê Moss.

Die watervlak in belangrike opgaardamme in Gauteng, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga is laer as dieselfde tyd verlede jaar. (Sien grafika)

Volgens die departement van water en sanitasie (DWS) is die Vaaldam se watervlak vir die eerste keer in drie jaar onder 50%.

Sputnik Ratau, DWS-woordvoerder, sê die Vaaldam het gesak tot 49%. In dieselfde tyd verlede jaar was dit 86,6% vol.

Op 21 Oktober was Limpopo se damme 50,5% vol in vergelyking met 64,7% verlede jaar.

Noordwes se damvlakke het van 58,4% tot 52,1% gesak en in Mpumalanga is damme nou 59% vol teenoor verlede jaar se 71,4%.

Die veld lê braak op dié plaas langs die N4 tussen Cullinan en Bronkhorstspruit. Boere gaan gebuk onder die droogte en wag steeds op die eerste goeie reën voor hulle kan plant. Foto: Deaan Vivier

Die feit dat somerreëngebiede nog nie goeie reën ontvang het nie, is rede tot kommer.

“Daar is min plekke waar dit nie al ’n krisis is nie,” sê

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

“Dit (goeie reën) is iets wat ons jare laas gesien het,” sê hy.

Cobus Olivier, ’n weer-wetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê daar is baie onsekerheid oor die komende reënseisoen.

Olivier sê dit is in dié stadium beter om gereed te maak vir die ergste omdat damvlakke reeds laag is.

Aanduidings is dat die seisoen droog gaan begin en dit eers teen Desember plek-plek noemenswaardig kan reën.

In die Johannesburgse metrogebied geld vlak-1-waterbeperkings sedert 2018. Dit verbied verbruikers om hul tuine tussen 06:00 en 18:00 nat te lei.

Die Tshwane-metroraad het inwoners op 19 Oktober gevra om water te bespaar. Hulle vra onder meer dat inwoners tuine nét natlei indien dit regtig nodig is en ook nét voor 06:00 en ná 18:00.

’n Trop beeste wei in ‘n droë grasveld langs die R42 tussen Bronkhorstspruit en Delmas. Foto: Deaan Vivier

Ratau het ’n beroep gedoen op mense om hul samewerking te gee om water te bespaar.

Volgens hom kort die provinsie dringend goeie reën voor die einde van November, anders sal streng waterbeperkings ’n werklikheid word.

“Ons wil altyd hê mense moet spaarsamig werk met water, dit moet ’n leefwyse word, maar dit is van kritieke belang dat mense nóú al minder water moet verbruik,” sê Ratau.

Die huidige hittegolf en die lae reënval speel die grootste rol in die lae damvlakke, sê Ratau.

Dr. Anthony Turton van die departement omgewingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat het Sondag aan Rapport gesê dat net ongeveer 2% van Suid-Afrika se daaglikse waterverbruik vir drinkwater gaan en om toilette te spoel.

Moss sê in Pretoria staan huishoudings se waterverbruik op 25%. Die res gaan aan landbou en nywerhede wat ook húl kant moet bring om water te bespaar.

Gauteng word ook geraak deur die Lesotho-Hooglandwaterprojek wat vir die duur van Oktober en November vir instandhouding van die projek se pypleidings gesluit is. Bykomende water vanuit dié projek word gewoonlik in die Vaalrivierstelsel gestoor vir Gautengers se gebruik.

Leon Basson, DA-woordvoerder van menslike nedersettings, water en sanitasie, sê twee van die belangrike damme wat deel vorm van die Lesotho-Hooglandwaterprojek is gevaarlik laag.

Volgens Basson is die Katsedam ongeveer 13% vol terwyl die Mohaledam ongeveer 32% vol is.

Volgens Ratau voorsien hulle geen probleme in die herstelwerk nie en behoort die projek weer teen die einde November water te voorsien aan die Vaal-netwerk.

Maar Basson is ook bekommerd dat Gauteng se inwoners eenvoudig net meer en meer water verbruik.

Volgens Basson is daar nagenoeg 12 miljoen mense in die provinsie wat daagliks sowat 3 800 miljoen liter water per dag verbruik.

Sy raad aan inwoners is om dadelik krane toe te draai.

“Gauteng moenie net aanvaar daar is ander water nie,” sê Basson.

Benewens die reën wat wegbly, is gebrekkige dienslewering ook ’n probleem.

In Leeupoort, Limpopo, is daar bitter min blare of ander kos oor vir die wild. Dié njala-ooi en haar kalfie is oor die naweek afgeneem. Foto: Isabel Venter
’n Rooibokram staan tussen dorre, blaarlose bome en uitkyk. Foto: Isabel Venter

Marietie Louw-Carstens berig dat krane in dele van Polokwane al dae lank kurkdroog is.

Dit is glo oor beweerde tegniese probleme by wateraanlegte wat water na Polokwane moet pomp.

Sommige inwoners in hoërliggende gebiede het al nege dae lank nie ’n druppel water nie.

Volgens die Polokwane-munisipaliteit word die watertekorte veroorsaak deur tegniese probleme by die Olifantspoort-wateraanleg wat deur die Lepelle Northern-waterraad bestuur word. Polokwane gaan al die laaste paar jaar gebuk onder gereelde wateronderbrekings.

Frank Haas, DA-raadslid, sê die aanvraag na water oorskry die aanbod.

In Mpumalanga het die watertekort in Barberton so erg geword dat die Mbombela-munisipaliteit (Nelspruit) die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit nou wil vra om ’n deel van die stad tot ’n rampgebied te verklaar, berig News24.

Joseph Ngala, munisipale woordvoerder, het gesê die dorp se belangrikste waterbron, die Lomati-dam in die Makhonjwa-berge tussen Barberton en die Bulembu-grenspos met Eswatini (Swaziland), is tans slegs ongeveer 20% vol.

Meer oor:  Darryl Moss  |  Reën  |  Droogte  |  Damvlakke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.