Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Gesloer met dam bedreig dalk SA se watersekerheid
Die Polihalidam se oorloop, soos deur ’n modelstudie by die Universiteit Stellenbosch uitgebeeld.

Gauteng het dalk nie nou ’n waterkrisis nie, maar waterkenners reken ’n meerjarige droogte kan die situasie verander. Trouens, dit lyk asof streng waterbeperkings in ieder geval op dié provinsie wag.

Dit is deels omdat ’n dam in Lesotho wat bedoel is om die uitwerking van ernstige droogtes te help verlig, ná jare steeds nie gebou is nie.

Die beplande Polihalidam, soos die bestaande Katsedam, is deel van die Lesotho-Hoogland-waterprojek.

Dié projek is bedoel om die volgehoue toevoer van water gedurende meerjarige droogtes aan Gauteng, dele van die Noord-Kaap (Kimberley en Upington), myne en nywerhede in Mpumalanga, Eskom-kragsentrales en die goudvelde in die Vrystaat en Noordwes, te verseker. Dit sluit ook water vir landbou in.

“Daar is tans nie ’n krisis nie, maar weerpatrone oor die volgende paar seisoene sal die noodlot van Gauteng en die Vaalrivierstelsel se ander gebruikers bepaal,” sê Peter Pyke, afgetrede hoofingenieur van die departement van water en sanitasie.

Die bou van die Katsedam was deel van fase 1 van die Lesotho-Hoogland-waterprojek. Die Katsedamwal is 185 m hoog. Foto: iStock

Pyke was voorheen verantwoordelik vir waterbeplanning in die sentrale deel van die land en betrokke by die beplanning van die Hoogland-projek se tweede fase wat die bou van die Polihalidam in die Senqurivier (bolope van die Oranjerivier) insluit.

Celiwe Ntuli, die departement se wetenskaplike bestuurder vir die beplanning en bedryf van waterbronstelsels, het verlede week aan Netwerk24 gesê sy verwag dat die tweede fase “tussen Desember 2025 en Februarie 2026” sal kan water lewer.

“Ons het vraag en aanbod oorweeg en gevind dat, as ons water bespaar, ons tot 2025 nog sal ‘uitbalanseer’. Ons sal dan nie in die moeilikheid kom nie,” het sy gesê.

Wanneer ’n watervoorsieningstelsel uitgebrei word, word die hoeveelheid water wat op ’n bepaalde tyd beskikbaar is, asook die groeiende aanvraag, oorweeg.

“Wanneer die aanvraag die veilige lewering oorskry, word tekorte in die aanbod moontlik. Dan moet óf die lewering aangevul word, óf die vraag moet beperk word om ’n balans te bring,” sê Pyke.

Streng waterbeperkings is daarom waarskynlik Gautengers se voorland.

Die Katsedam in Lesotho onder konstruksie in die 1990’s. Hierdie dam was deel van fase 1 van die Lesotho-Hoogland-waterprojek. Foto: iStock

Prof. Gerrit Basson, ’n hidrouliese ingenieur verbonde aan die Universiteit Stellenbosch wat betrokke is by die ontwerp van die Polihalidam se oorloop, meen die afhandeling van fase 2 “gaan ’n beduidende verskil maak” aan die Vaalrivierstelsel se watersekerheid, “maar tot die dam se afhandeling kan Gauteng ernstige waterbeperkings verwag”.

’n Ontleding in 2009 het volgens Pyke aangedui dat fase 2 volgende jaar moes klaar wees.

Masilo Phakoe, namens die Lesotho-Hoogland-ontwikkelingsowerheid, het Netwerk24 daarop gewys dat die goedkeuringsproses met twee jaar vertraag is en die aanvanklike sperdatum eerder 2022 was. Die sperdatum is nou eers 2027.

Voorspellings in 2012 het volgens Pyke aangedui die aanvraag was toe reeds besig om die veilige lewering van die Vaalrivierstelsel te oorskry.

“Die vlak van waterbeperkings sal bepaal word deur hoe erg die droogte is, maar dit kan ernstig wees, veral noudat die uitbreiding (fase 2) eers in die begin van 2027 verwag word,” sê hy.

Die Vaalrivier aan die oewer van Vanderbijlpark. Foto: Felix Dlangamandla

Hoe later, hoe duurder

Die projek het uit die staanspoor gebuk gegaan onder korrupsie en wanbestuur, met die gevolg dat ’n Lesotho-hoë vir jare agter tralies was.

Fase 2 het in September vanjaar al nagenoeg R10 miljard gekos, volgens inligting wat die Lesotho-Hoogland-ontwikkelingsowerheid aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs (Saice) bekend gemaak het.

Die projek se totale koste het ook gestyg soos die jare aangestap het.

City Press het in 2016 berig die totale projek moes aanvanklik R22 miljard kos.

Volgens Phakoe beloop die projek se beraamde koste teen 2027 al R32 miljard.

Die stutwerk vir ’n tonnel van die Katsedam in Lesotho. Foto: Getty Images

Nomvula Mokonyane, voormalige minister van water en sanitasie, is in 2016 daarvan beskuldig dat sy na bewering die projek vertraag het sodat sy ’n kontrakteur van haar keuse kon laat aanstel.

Die departement het aan City Press ontken dat Mokonyane iets verkeerd gedoen het en volgehou die vertraging was om te verseker dat maatskappye met swart aandeelhouding by die projek betrokke raak.

Phakoe het Dinsdag aan Netwerk24 gesê: “Ons is nie bewus van enige doelbewuste vertraging deur enigiemand nie. Vir ’n projek van hierdie aard en omvang word die geraamde koste aangepas en verfyn soos meer inligting beskikbaar word.”

Dít was volgens Phakoe die situasie sedert 2016, omdat talle tenders sedertdien toegeken is.

“Die billikste skatting is wanneer alle groot kontrakte toegeken is en die finale koste is wanneer ’n sertifikaat vir afhandeling uitgereik word en die finale faktuur betaal is. Enigiets tussenin is ’n skatting.”

Fase 2 sluit in die bou van die Polihalidam met ’n 165 m hoë damwal, sy beheersentrum, die Kobong-pompstasie, ’n 38 km lange tonnel tussen die Polihali- en Katsedam, ’n nuwe dorpie en lodge langs die dam, opknappings aan die bestaande Katse Lodge langs die Katsedam en die Senqubrug van 875 m bo-oor die Polihalidam. Die bou van die dam raak 17 nedersettings, ’n skool en selfs ’n tronk. Altesaam 329 huishoudings moet verskuif word.
Fase 2 se beplanning:

• Gangbaarheidstudies is in 2006 tot 2009 gedoen en in 2010 is besluit om met fase 2 voort te gaan.

• Die projek het in 2016 hervat en bouplanne is gedurende 2017 en 2020 ingedien.

• 48 kontrakte is reeds aan verskaffers toegeken. Daar kan tussen Oktober vanjaar en September volgende jaar vir die oorblywende 16 kontrakte getender word.

• In September 2021 begin die oprigting van die dam, die tonnel en pompstasie uiteindelik.

• Die dam word vanaf 2024 volgemaak.

• Gedurende Desember 2025 en Februarie 2026 begin hierdie dam water aan Suid-Afrika lewer.

• In 2027 moet die projek kant en klaar wees.


Meer oor:  Droogte  |  Dam  |  Water  |  Watersekerheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.