Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Stygende wolprys bring hoop ondanks droogte
Ondanks die erge droogte, is dié ram vir die hoogste prys van R30 000 op Konsortium-Merino se laaste veiling vir die jaar verkoop. Altesaam 1 263 ramme is op vyf veilings teen gemiddeld R7 712 ’n stuk verkoop. Agter van links staan Perdjie Lubbe, Konsortium-Merinoteler van Vlakfontein, Victoria-Wes, Willie Meyer, uitvoerende bestuurder: GWK veilings en Gawie van Heerden, besturende direkteur van KonsortiumMerino. Voor kniel Jakkie Nel, afslaer en Claude Cloete, koper. Thulani Tatubane hanteer die ram.

Nadat die wolprys ná ’n hewige daling met 10% gestyg het, hou boere in droogtegeteisterde streke asem op vir verdere goeie nuus.

Dit volg nadat die wolveilings hervat is omdat probleme met die uitvoerproses uitgestryk is.

Maar as daar ooit ’n wekroep vir boere was om anders te begin dink en doen, is dit nou, waarsku Gawie van Heerden, besturende direkteur van KonsortiumMerino.

Hy het onder meer verwys na die wolprys, wat twee weke gelede eers 30% gedaal het, en toe weer 10% geklim het, asook die vleisprys wat 30% vanjaar gedaal het.

Ook in Australië is die wolpryse hoogs onvoorspelbaar.

Dit is asof alles op ’n laagtepunt is, sê Van Heerden.

“Dít saam met politieke onsekerheid, saam met die verbruiker wat swaarkry, skep ’n groot uitdaging.”

Boere kan nie meer bekostig om hul tweederangse wol- en vleisprodukte op die mark te sit nie.

“Ons kan swak wolpryse hanteer as dit reën, maar die droogte kan ons geldelik knou.”

Van Heerden, wat by Victoria-Wes in die Karoo boer, sê hy kan solank hy onthou nog nie sulke droogte gesien nie.

Verligting oor die 10%? Ek weet nie. Die droogte beïnvloed die hoeveelheid wol en skoon opbrengs erg.
Kenneth Coetzee, wolboer

Clarence Friskin, hoofbestuurder van die wolmakelaar Segard Masurel Suid-Afrika en voorsitter van die Suid-Afrikaanse wol-en-bokhaarkopersvereniging (Sawamba), het vandeesweek terugvoering gegee op die stygende wolprys.

“Die verswakking van die Australiese dollar teenoor die Amerikaanse dollar is ’n goeie teken. Ek het gekyk na die tegniese prentjie en die Amerikaanse dollar lê by 900 tot 990 op die indeks.

“Dit is belangrik dat hierdie vlak konstant bly, en ek dink dit sal. Dit sal ’n goeie teken vir wolpryse in die toekoms wees.”

Van Heerden sê dit is ’n goeie teken dat die wêreld al hoe meer groenbewus raak.

“Wol is maar twee en ’n half persent van die wêreld se tekstiel, terwyl Suid-Afrika twee tot drie persent daarvan verskaf.

“Dis eintlik ’n nisomgewing, wat dit ’n goeie bedryf maak.”

Kenneth Coetzee, ’n merinoboer van die plaas Skipperskloof naby Williston in die Noord-Kaap, moes baie van sy ramme verkoop weens talle boorgate wat op sy plaas opgedroog het.

Hy hoop die wolmark verbeter weer nadat dit eers met 30% geval het.

“Verligting oor die 10%? Ek weet nie. Die droogte beïnvloed die hoeveelheid wol en skoon opbrengs erg. Die styging in die mark gaan dít nie wegvat nie.”

Hy was Woensdag besig om water aan te ry vir boere.

“Dis maar ’n taai sakie.”

Al sy wol word vroeg Oktober opgeveil. “Dit klink my die kopers van China kry oor twee weke hul geld in, so daar hoop ons ook die mark styg.”

Hy boer van Desember 2009 af en sê hulle het nog net 2012 goeie reën gehad.

“Die laaste drie jaar se droogtes het net al hoe minder reën gebring.”

Meer oor:  Droogte  |  Wolprys  |  Wolboere  |  Wolbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.