Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Veeboere trek noustrop, maar...

Veeboere trek tans swaar en vleispryse is al die heeljaar onder druk, maar op medium- en lang termyn lyk dinge vir dié bedryf rooskleurig, sê Gerhard Schutte, hoof van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO).

Na raming sal die vraag na beesvleis tot 2018 met 25% groei. Omdat die vinnigste bevolkingsgroei ter wêreld in Suider- en Oos-Afrika verwag word, lyk dinge op lang termyn baie goed vir veeboere, sê Schutte.

Schutte sê daar is landwyd min kos vir diere, maar daar is veral in die Noord-Kaap en Noordwes ’n kritieke tekort aan weiding.

Schutte sê boere wag op reën en sodra daar genoeg weiding is, sal boere met ’n sterk kuddeboufase begin.

Boere het die afgelope paar jaar weens die droogte baie kuddediere uitgeslag en moet hul veekuddes opbou, sê hy.

Schutte sê daar is talle redes waarom vleispryse vanjaar laer is as wat dit in 2018 was.

Die vernaamste is die swak plaaslike ekonomie en gevolglik ’n tam binnelandse kopersmark.

Suid-Afrika het ook heelwat van sy uitvoermark weens die bek-en-klouseeruitbreking verloor, maar ’n mens moet onthou die land voer net 5% van sy vleis uit.

Die prys van beesvleis het die afgelope tyd herstel terwyl skaapvleis steeds 11% goedkoper is as ’n jaar gelede.

Skaapvleis is duurder as beesvleis en mense besnoei in moeilike tye aan luukses, sê hy.

Hoewel veeboere tans swaar trek weens swak pryse en droogtetoestande, glo die RPO daar wag ’n rooskleurige toekoms op die bedryf. Daar was ook onlangs baie belangstelling in die veebedryf tydens die Alfa-ekspo in Parys.Foto: Alet van der Walt

Schutte sê die invoer van vleis is nie werklik ’n bedreiging vir plaaslike boere nie. “Suid-Afrikaanse boere produseer rooivleis teen 30% minder as die internasionale prys.”

Hy sê daar is nog altyd vleis uit buurlande na Suid-Afrika ingevoer, hoewel Botswana onlangs ’n beroering in die mark veroorsaak het toe hy eensydig afgekondig het dat hy sy grens oopstel vir die uitvoer van lewende hawe.

Suid-Afrika voer al jare lank geslagte vleis uit Botswana in.

Botswana het onlangs toestemming gegee dat speenkalwers, asook koeie, oor die volgende ses maande vir slagdoeleindes na Suid-Afrika uitgevoer mag word.

Boeta Maree, ’n veespekulant en self ’n boer in Botswana, sê daar is geweldige rompslomp betrokke om lewende hawe na Suid-Afrika uit te voer.

“Botswana gebruik ook ’n ander graderingstelsel as Suid-Afrika en dit is nie werklik vir Botswana se boere die moeite werd om lewende hawe na Suid-Afrika uit te voer nie.”Neem ’n mens die vervoerkoste, die kwarantyntydperk en die gewig wat diere verloor, in ag, kry boere nie veel meer geld as in Botswana nie.

Maree sê omdat die Botswana Meat Corporation (BMC) tot ses maande vat om boere te betaal, sal boere wel hier en daar beeste uitvoer om hul kontantvloei te verbeter.

Sover hy weet, is ongeveer 170 beeste die afgelope tyd na Suid-Afrika uitgevoer.

“Boere hier moet ook onthou buurlande koop baie duur stoetdiere in Suid-Afrika en hulle baat weer daarby,” sê Maree.

Meer oor:  Vleispryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.