SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Droogte
Verklaar droogte tot nasionale ramp, vra DA

Verklaar die huidige droogte wat Suid-Afrika in sy wurggreep het tot ’n nasionale ramp.

Die DA het Woensdagaand dié beroep in die Nasionale Vergadering herhaal in ’n debat oor die landwye waterkrisis.

Annette Steyn, DA-LP, het gesê die land is in Februarie verlede jaar tot ’n nasionale rampgebied verklaar weens die droogte. Dit was egter 18 maande gelede en die situasie het intussen vererger.

“Die verlammende effek van die droogte op die landbousektor is rampspoedig. Nie net het hulle geen inkomste in die tyd nie, maar dit kos miljarde om hul diere aan die lewe te hou.

“Maar waar is ons nasionale regering? En waar is ons nasionale droogteplan? Die DA wil graag sy oproep herhaal vir die droogte om tot ’n nasionale ramp verklaar te word om verbeterde beplanning, bestuur en reaksie van verskeie staatsliggame en ander rolspelers in die sektor te verseker.”

Maar waar is ons nasionale regering? En waar is ons nasionale droogteplan?
Annette Steyn, DA

Die droogte raak volgens haar meer as een provinsie en dit kan nie aan provinsiale regerings oorgelaat word om dit alleen te hanteer nie.

Steyn het ’n beroep op Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gedoen om ’n dringende vergadering van landbou-LUR’e saam te roep om die impak van die droogte te bespreek en om geld van Agriparke na droogteverligting te skuif. “Dit sal minstens R1 miljard dadelik beskikbaar stel.”

Steyn het ook gevra dat Tito Mboweni, minister van finansies, na wetgewing kyk wat die banksektor reguleer om te help met die terugbetaling van sagte lenings gedurende lang tydperke van rampe.

Delisile Ngwenya, EFF-LP, het gesê die droogte is ’n venster na die nabye toekoms tensy die regering dringend optree. Ambagslui behoort volgens haar op massiewe skaal in diens geneem word om te help met instandhouding van waternetwerke.

Narend Singh, IVP- LP, het die waterprobleem toegeskryf aan wanbestuur deur die regering. Almal in die land sou volgens hom toegang gehad het tot skoon drinkwater as dit behoorlik bestuur was, maar korrupsie vier hoogty in die watersektor.

Pieter Mey, VF Plus-LP, het voorbrand gemaak vir die grootskaalse gebruik van watertenks. “Nie ’n enkele bouplan behoort goedgekeur te word sonder dat daar voorsiening gemaak word vir watertenks nie. Die enigste oplossing vir Suid-Afrika is watertenks. Dit is die enigste antwoord, want as ons vir die ANC gaan wag om damme te bou, gaan ons nog lank wag.”

David Mahlobo, adjunkminister van water en sanitasie, het gesê die land is blootgestel aan langdurige hittetoestande en het die situasie in elke provinsie gelys. Damvlakke word gemonitor en boorgate word in sekere gebiede gesink.

Hy het gesê die situasie in Gauteng is onder beheer. Die probleem in die provinsie het veral te doen met watersuiweringsaanlegte. Tshwane en Johannesburg en “al die ander stadsrade” besoedel onder meer die Vaalrivierstelsel, Apiesrivier en die Hartebeespoortdam. “Ons het besluit dat die adjunkpresident al die premiers byeen sal roep wat geraak word, omdat die besoedelaar sal betaal.”

Hy het gesê die departement gaan die Tshwane-metroraad op 5 Desember hof toe neem weens waterbesoedeling. “Besoedelaars gaan betaal,” het hy gesê.

Meer oor:  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.