Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
'Verklaar droogte tot ramp, assebliéf'

’n Oproep het opgeklink om die droogte tot nasionale ramp te verklaar omdat dit “krisisvlakke bereik het en stil-stil een van die land se grootste uitdagings word”.

Terselfdertyd het die kabinet aangekondig dat daar onmiddellike korttermynhulp vir boere in die Noord-Kaap op pad is. Sowat R30 miljoen is vir die koop en verspreiding van veevoer herprioritiseer.

Die kabinet het Donderdag dié dringende ingryping aangekondig om die invloed van die droogte in die provinsie te help verlig.

“Die ingrypings is deel van die grondhervorming- en geïntegreerde boerdery-ondersteuningsprogram.

“Sowat R30 miljoen is as korttermynmaatreël herprioritiseer vir die koop en verspreiding van veevoer vir die boerderygemeenskap.

“Die regering gaan ook die vermoë vir watervoorsiening verhoog deur meer boorgate in droogtegeteisterde gebiede te laat sink,” lui die verklaring wat Donderdag ná Woensdag se kabinetsvergadering uitgereik is.

Dit kom te midde van die DA se pleidooi aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, om dringend ’n nasionale noodtoestand oor die droogte af te kondig.

VRYSTAAT: Die ergste droogte in meer as 100 jaar op verskeie plekke in die land het baie boere op hul knieë gedwing. Foto: Conrad Bornman
droogte, reën,
OOS-KAAP: Welkome reën in die distrik Richmond. Foto: Nadia van der Colff
NOORD-KAAP: Die Noord-Kaap gaan gebuk onder erge droogte. Boere is raadop met die reën wat wegbly. Anena Burger het boere in die Groblershoopdistrik besoek. Weerkenners sê dit sal wel van einde Oktober sporadies begin reën. Foto: Anena Burger
WES-KAAP: Die droogte benadeel koringaanplantings in die Swartland-streek. Die bruin dele is tipies van droogte wanneer die dele verste van die blom eerste verdor as dit swaarkry. Foto: Edrea du Toit
NOORD-KAAP: Die jagbedryf wat voorheen ’n inkomste vir boere in Vosburg was, het weens die vernietigende droogte tot stilstand gekom. Gemsbokke, soos gesien op die agtergrond, vreet selfs turksvyblare, waarvan die reste op die voorgrond lê. Foto: Johan Vos
NOORD-KAAP: Die plaas Dikbek, sowat 80 km buite Springbok op die N14, soos dit vandag daar uitsien.
LIMPOPO: Daar is geen weiding vir diere buite Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo nie. Foto: VERSKAF

Thandeka Mbabama, DA-LP, sê in ’n verklaring die droogte het “krisisvlakke” bereik en word stil-stil een van die grootste uitdagings waardeur die land in die gesig gestaar word.

Die provinsiale regerings het duidelik nie die vermoë om nog geld vir droogtehulp aan hul inwoners te gee nie en dit lyk asof die nasionale regering anderpad kyk
Thandeka Mbabama, DA-LP

Die minister mag ingevolge die Wet op Rampbestuur deur ’n kennisgewing in die Staatskoerant ’n “nasionale ramp afkondig as bestaande wetgewing en noodmaatreëls nie genoegsaam voorsiening maak vir die nasionale uitvoerende gesag om die ramp doeltreffend te hanteer nie”.

Mbabama sê provinsies en gemeenskappe oor die land heen ly in stilte omdat die droogte hul gemeenskappe verlam.

“Groot dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap en dele van Limpopo is verlam deur die droogte en in baie dele het die krane opgedroog, met min of geen ingryping van die nasionale regering nie.

“Die provinsiale regerings het duidelik nie die vermoë om nog geld vir droogtehulp aan hul inwoners te gee nie en dit lyk asof die nasionale regering anderpad kyk,” lui Mbabama se verklaring.

Dit blyk ook dat die droogte daardeur vererger word dat baie van die geraakte munisipaliteite die instandhouding van kritiese waterinfrastruktuur en -aanlegte agterweë gelaat het, sê Mbabama.

“Die euwel van korrupsie en onverskilligheid het daartoe gelei dat die krane in baie dorpe opgedroog het.”

Dit sal nie ’n plaaslike kwessie bly nie. “Boere kan nie hul landerye natlei of hul vee voer nie, terwyl eienaars van kleinsakeondernemings met hul daaglikse bedrywighede kan voortgaan nie.

“Dit sal ’n ernstige invloed op provinsiale ekonomieë en uiteindelik op die stagnante nasionale ekonomie hê.”

Mbabama het bygevoeg dat Suid-Afrika nie net ’n energiekrisis het nie, maar ook ’n waterkrisis. Daarom “smeek die DA die minister om die regte ding te doen” deur ’n nasionale ramp weens die droogte af te kondig.

Meer oor:  Droogte  |  Rampgebied  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.