Die DA verwelkom die besluit van die Vrystaatse uitvoerende raad om die provinsie tot ’n droogte-rampgebied te verklaar, sê dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer.

Dr. Roy JankielsohnFoto: Facebook
Hy sê dit is die eerste stap om te verseker dat inwoners van die Vrystaat regeringshulp ontvang.
“Ek het op 17 Januarie aan Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, en dr. Benny Malakoane, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, geskryf en versoek dat gebiede in die provinsie tot rampgebied verklaar word.
“Mokete Duma, hoof van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, het munisipaliteite versoek om tussen 1 Februarie en 8 Februarie spesiale raadsvergaderings te belê om rampbestuursplanne goed te keur.
“Sommige munisipaliteite worstel al vir maande met waterskaarsheid en vereis dringende ingrypings en bystand.”
Hy sê die landbousektor in die Vrystaat is die fondament van die landelike ekonomieë en die provinsie kan dit nie bekostig om meer boere te verloor as gevolg van die droogte nie.
“Ons boere sukkel reeds om te oorleef as gevolg van stygende kostes, swak paaie en misdaad.
“Die DA sal aanhou om hom te beywer vir meer droogteverligting in die Vrystaat.”