Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Voer op pad vir renosters ná hulpkreet

’n Noord-Kaapse renosterboer gaan vandeesweek voer ontvang nadat Chris van Beljon van Boeredroogtehulp SA ’n hulpkreet gekry het oor renosters wat weens die droogte vrek.

Dié swartwitpens het in die droogte gevrek. Foto: Verskaf

Van Beljon sê hy het nooit besef hoe swaar die wildboere kry nie en dat renosters deesdae nie net weens stropery nie maar ook weens die droogte vrek.

Hy gaan later vandeesweek 47 groot bale veevoer by ’n wildboer aflaai om van sy renosters te probeer red.

“Maar renosters vreet baie. Weens die risiko’s daaraan verbonde, wil niemand meer renosters aanhou nie. En die renosters wat in private besit is, sal dalk ál wees wat ons eendag oor het. Nou met die droogte is hul lewens ook in gevaar, en nie omdat hul horings gestroop gaan word nie. Omdat renosterhorings nie verkoop mag word nie, kan wildboere nie geld maak om voer te koop nie.”

Nog ’n wildboer wat buite Kimberley boer, sê die droogte is so verskriklik dat die boere net van dag tot dag oorleef.

“Solank ons net ons mense kan betaal. Dit is ’n baie moeilike tyd om toekomsplanne te maak.

“En ja, soos die ander wild het daar ook al renosters weens die droogte gevrek.

“Wildboere kwalifiseer nie vir staatshulp nie omdat ons kwansuis nie deel van die voedselketting is nie. Ons verkoop baie wildsvleis en ís dus deel daarvan. Ons verskaf ook werkgeleenthede.”

Hy sê hoewel die ekonomie knyp, het die aantal jagters nie afgeneem nie.“Die ironie is dat daar nie meer so baie wild oor is om te jag nie. Gewoonlik word ouer diere vir trofeë gejag, maar die ouer en jong diere is die eerstes wat in die droogte vrek. “Baie wildboere het al opgegee, hul moed is gebreek. Hulle kan net die wild voer totdat hul geld op is. Selfs al voer jy ’n dier, sal hy swak bly want dit is net nie so heilsaam soos natuurlike weiding nie.”

’n Gemsbok wat weens droogte gevrek het. Foto: Verskaf

Daar is baie plase wat nou braak lê en dit is byna onmoontlik om die wild te vervang.

“Die veevoer wat geskenk word, is baie welkom. Dit is egter nie ’n langtermynoplossing nie, want die nasleep van die droogte gaan nog baie lank met ons wees.

“Skenkings veevoer gee hoop, maar ’n mens weet nie of dit ’n plaas kan red nie.

“Boere probeer nog kosbare wild soos renosterkoeie en -kalfies lewend hou, maar dit kos baie geld.

“Die droogte ontsien niemand nie, en dit gaan baie lank wees voordat die wildboere herstel. Die wildbedryf moet nuwe planne maak, hoewel niemand weet watter planne gaan werk nie. Ons moet buite ons gemaksone dink. Die boere hoop maar hulle kan uithou totdat nuwe geleenthede opduik.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Droogtehulp  |  Droogte  |  Renosters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.