Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Vordering gemaak om Makhanda se waternood te verlig
Sodra al die modder verwyder is, sal die James Kleynhans-watersuiweringsaanleg teen sy volle vermoë kan begin pomp.

Daar is dalk ’n lig aan die einde van die tonnel vir die voortslepende watertekorte in Makhanda (Grahamstad) in die Oos-Kaap.

Meer as 80 000 inwoners van dié dorp het die afgelope 14 dae gely onder watertekorte wat Makhanda-Oos en sekere dele van Makhanda-Wes verlam het.

Gift of the Givers het ingegryp en duisende liter gebottelde water aan inwoners verskaf.

Die organisasie het ook dr. Gideon Groenewald, sy hidro-, geo- en paleontoloog, ingespan om plekke te identifiseer waar boorgate gesink kan word om water te soek.

Dr. Imtiaz Sooliman, Gift of the Givers se stigter, sê Groenewald het Dinsdag met sy eerste probeerslag skoon drinkwater gevind op ’n diepte van 145 m.

Dié goeie nuus beteken daar kan nou 20 000 liter drinkwater per dag verskaf word, sê Sooliman.

“Die boormasjien gaan by ander plekke met ’n soortgelyke rotsformasie boor. Ons verwag om hier op laer vlakke water te vind.

“Die doel is om op soveel plekke moontlik te boor om ’n alternatief te bied vir die gebottelde water wat nou as noodmaatreël gebruik word.”

’n Werker vee modder uit die James Kleynhans-watersuiweringsaanleg. Foto’s: Facebook

Netwerk24 het voorheen berig die Setlaarsdam, wat water aan die dorp voorsien, is 13% vol, maar weens slik kan water nie uit die laaste 10% gepomp word nie.

Die Makhanda-munisipaliteit sê op sy Facebook-blad die Waainek-watersuiweringsaanleg, wat water van die kleiner Howiesonspoortdam kry, het verlede week minder water gepomp weens ’n elektriese fout.

Daarna is planne beraam om meer water van die James Kleynhans-watersuiweringsaanleg te pomp, wat sy water van die Glen Melville-dam kry. Die Glen Melville-dam kry op sy beurt water van die Oranje-Visrivier-skema.

Dié plan het egter gesneuwel, want die groot hoeveelheid modder wat van die Oranje-Visrivier-skema in die dam gestort is, het die munisipaliteit genoodsaak om die James Kleynhans-aanleg te sluit.

Daar is egter intussen weer begin om water teen 50% van die James Kleynhans-aanleg se vermoë te pomp.

Werkers is steeds besig om die aanleg van die modder skoon te maak.

Totdat die watersuiweringsaanleg teen sy volle vermoë water kan pomp, gaan inwoners sonder water deur munisipale watertenks van water voorsien word.

“Die modder word verwyder sodat die tenks opgevul kan word om water te pomp. Albei pompe gaan in werking wees sodra die skoonmaakoperasie afgehandel is,” sê die munisipaliteit se kommunikasieafdeling.

Meer oor:  Makhanda  |  Droogte  |  Watertekort  |  Waternood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.