Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
VS-waterkrisis: Premier vra Gift of the Givers se hulp
Sisi NtombelaFoto: Argief, News 24

Die waterkrisis in dele van die Vrystaat het Sisi Ntombela, premier, genoop om die hulp van Gift of the Givers en JM Landmann Boordienste in te roep.

Dorpe in die Mafube-munisipaliteit (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling) asook Qwaqwa gaan onder ernstige waternood gebuk.

Ntombela sê die Wilgerivier by Frankfort is droog. Die Katsedam staan op 12% en boonop is die watertoevoer hiervandaan afgesluit terwyl daar aan die watertonnel gewerk word.

In die lig hiervan word boorgate gesink, sê sy.

Sy het Sondag by navraag gesê: “Praat met die boorman, Martyn Landmann van Gift of the Givers. Hy is hier by my.”

Water kan nie meer orals aangery word nie omdat te veel mense nou sonder water is.
Gift of the Givers

Landmann sê water kan nie meer orals aangery word nie omdat te veel mense nou sonder water is.

“Ons begin Woensdag drie boorgate by Frankfort sink. Ons het reeds ’n boorgat by Riemland gesink nadat die gemeenskap diesel daarvoor gegee het. Ons gaan nou nog twee in die township sink.”

Hy sê in Qwaqwa is daar reeds drie van Gift of the Givers se boorgate wat pompe het “en ons beplan om nog twee of drie te ontwikkel waar klaar geboor is”.

“Die Manthatisi Secondary School in Qwaqwa kry reeds by ons boorgatwater.”

Landmann sê die droogtekrisis word al hoe erger.

Mariette Pittaway, DA-LPW, sê egter Sondag in ’n verklaring die waterkrisis in die Mafube-munisipaliteit is die gevolg van swak beplanning van die departemente van water en sanitasie en van samewerkende regering en tradisionele sake.

“Die munisipaliteit is drie maande gelede ingelig dat die water van die Katsedam vir ’n paar maande nie beskikbaar sal wees nie omdat die tonnel vir onderhoudswerk gesluit word. Geen planne is egter gemaak om die krisis te voorkom nie,” sê sy.

nog ’n krisis is die 48%-verlies van alle gesuiwerde water in die munisipaliteit vanweë verouderde infrastruktuur.
DA

“Die Wilgerivier het nog net genoeg water om vir 14 dae in die aanvraag te voorsien. Daarna breek Dag Zero aan.”

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement van water en sanitasie, sê by navraag water gaan uit die Sterkfonteindam af gelaat word om in die vraag te voorsien.

Pittaway sê die departement van water en sanitasie het ook water van die Sol Plaatjedam (voorheen die Saulspoortdam) beloof, maar niks het gebeur nie.

Sy sê nog ’n krisis is die 48%-verlies van alle gesuiwerde water in die munisipaliteit vanweë verouderde infrastruktuur.

Pittaway sê in 2014 het die DA in Mafube ’n mosie ter tafel gelê waarin gevra is dat R1 miljoen per kwartaal opsy gesit word vir die opgradering van die verouderde water-infrastruktuur.

“Maar dit is nie gedoen nie en die infrastruktuur is nou vervalle.”

Volgens Pittaway het die DA op ’n spesiale raadsvergadering Donderdag gevra dat die raad die erns van die situasie besef en volhoubare oplossings bied, “soos die sink van boorgate, die dringende herstel van die Wilgegrivier-damwal en die skoonmaak en dieper maak van opvangsgebiede om die munisipale gebied”.

Meer oor:  Gift Of The Givers  |  Sisi Ntombela  |  Droogtehulp  |  Droogte  |  Premier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.