Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
W-Kaap se damvlakke daal tot 55%

Damvlakke in die Wes-Kaap het die afgelope week verder gedaal, maar die meeste van die groot damme in die Suidwes-Kaap bly steeds voller as dié tyd verlede jaar.

In die Karoo bly die damvlakke egter kommerwekkend laag en in die Suid-Kaap is die meeste damvlakke tans laer as in die ooreenstemmende tydperk in 2019.

Teen Maandag het die provinsie se gemiddelde damvlak van 56,8% tot 55,4% afgeneem, teenoor 52,3% dié tyd verlede jaar.

Die gemiddelde vlak van Kaapstad se damstelsel het van 75,5% tot 74,2% gedaal, teenoor 63,7% dié tyd verlede jaar.

Die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die Wes-Kaap, se vlak het die afgelope week van 66,8% tot 65,7% gedaal. Dit is steeds heelwat voller as dié tyd verlede jaar, toe dit op 49,4% gestaan het.Foto: Jaco Marais

In Kaapstad het die gesamentlike watergebruik oor die voorafgaande week gestyg van 669 miljoen liter (megaliter) per dag tot 704 megaliter per dag, luidens ’n verklaring wat die metroraad Maandag uitgereik het.

Kragtens vlak een-waterbeperkings is die mikpunt vir gebruik onder 650 megaliter per dag.

Die Moederstad se watergebruik was vir die grootste deel van 2019 onder die mikpunt, maar het dit teen Oktober begin oorskry en was vir die grootste deel van November en Desember bo 650 megaliter per dag.

Die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, het die afgelope week van 66,8% tot 65,7% gedaal. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was dit op net 49,4%.

Die vlak van die Benede-Steenbrasdam het van 84,7% tot 82,5% afgeneem en die vlak van die Voëlvleidam van 79,6% tot 78,6%.

Die Bergrivierdam se vlak het van 91,6% tot 89,7% gedaal en die Wemmershoekdam se vlak van 81,3% tot 79,4%.

In die noordweste van die provinsie het die Clanwilliamdam se vlak van 64% tot 60,7% afgeneem, terwyl dit in die ooreenstemmende tyd verlede jaar op 66% was.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het op Oukersdag gewaarsku dat vroeë weervoorspellings vir die komende reënseisoen daarop dui dat die nodige reënval nie oral in alle streke gaan uitsak nie.


Hy het toe in ’n verklaring daarop gewys dat sommige dele van die Wes-Kaap se waterbronne slegter daaraan toe is as die vorige jaar, veral in die Gouritsrivier-opvangsgebied wat water aan groot dele van die Karoo verskaf.

Die vlak van die Voëlvleidam, tussen Gouda en Wellington, was Maandag op 78,6% teenoor 79,6% ’n week gelede. Dit is een van die ses vernaamste damme wat water aan Kaapstad verskaf.Foto: Samuel Walters

In die Karoo is sommige damme nog voller as dié tyd in 2019, terwyl ander leegstaan.

By die Floriskraaldam naby Laingsburg is 2,8 mm reën oor die voorafgaande sewe dae gemeet en het die vlak onveranderd op 10,5% gebly, teenoor 3,2% in die ooreenstemmende tydperk.

Die Gamkadam naby Beaufort-Wes se vlak het van 20,8% tot 18,4% gedaal. ’n Jaar gelede was dit leeg.

Die Calitzdorpdam se vlak het effens afgeneem van 8,6% tot 8,3% en die Stompdriftdam naby Oudtshoorn se vlak het van 5,8% tot 5,6% gedaal.

Daarby het die Oukloofdam naby Prins Albert se vlak van 2,3% tot 1,7% gedaal teenoor 0,4% ’n jaar gelede.

Die Miertjieskraaldam, suid van Ladismith, die Leeu-Gamkadam en die Gamkapoortdam naby Prins Albert is egter dolleeg.

Damvlakke

In die Suid-Kaap het damvlakke op plekke aansienlik gedaal te midde van reënval van tot 14 mm in die voorafgaande sewe dae.

Die Duivenhoksdam naby Heidelberg se vlak het van 44,6% tot 41,1% afgeneem en die Korentepoortdam naby Riversdal se vlak van 39,5% tot 37,5%.

By die Tuinroetedam in George is 14 mm reën gemeet en het die vlak van 67% tot 65,8% gedaal, teenoor 80,8% dié tyd verlede jaar.

By die Ernest Robertsondam naby George is 13 mm gemeet en het die vlak slegs van 77,8% tot 77,3% afgeneem, terwyl die dam verlede jaar 100% vol was.

Die Wolwedansdam naby Mosselbaai se vlak het van 44,6% tot 43,7% gedaal en 3,8 mm reën is hier gemeet.

Die Roodefonteindam naby Plettenbergbaai se vlak het van 77,8% tot 77,3% afgeneem en 4,4 mm reën is gemeet, terwyl die damvlak ’n jaar gelede op 97,7% was.

Meer oor:  Droogte  |  Damvlakke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.