Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Water: ‘Dinge lyk sleg, maar daar ís hoop’

Dhesigen Naidoo, uitvoerende hoof van die Waternavorsingskommissie (WNK), kyk ’n mens reguit in die oë en sê daar ís hoop vir Suid-Afrika se waternood.

Dhesigen Naidoo, uitvoerende hoof van die Waternavorsingskommissie (WNK) Foto: Deaan Vivier

“Dinge lyk nou sleg, maar as almal die nodige opofferings maak, sal daar oorgenoeg water vir almal wees.”

Netwerk24 het Woensdag by die WNK se kantoor in Pretoria met Naidoo gesels kort nadat hy deel was van ’n konferensie oor Gauteng se dreigende waterkrisis onder leiding van Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie.

Wat het van ons water geword?

“So spesiaal as wat ons dink ons hier in Suid-Afrika is, is dit nie die geval nie. Watertekorte is ’n wêreldwye verskynsel – daar is meer mense as ooit te vore,” sê Naidoo.

Wetenskaplikes het plaaslik al in die 1980’s gewaarsku die waterinfrastruktuur gaan nie byhou by die bevolkingsgroei nie. Twee derdes van die land is halfwoestyn, die res plat.

“Dit laat mens nie met baie plek om opgaardamme te bou nie en dan reën dit ook maar min.”

Daarbenewens het die meeste mense lankal nie meer ’n liefde vir of verbintenis met die natuur nie en het hulle gemaksugtig geword. Gautengers, blyk dit, die meeste.

As ’n reël vloei water afdraande, maar in Suid-Afrika ‘vloei’ dit opdraande na Gauteng, in die rigting van die geld.

Dié provinsie is tegnies eintlik altyd in ’n droogte omdat sy waterverbruik hoër as sy reënval is en die tekort deur ander provinsies aangevul word.

“As ’n reël vloei water afdraande, maar in Suid-Afrika ‘vloei’ dit opdraande na Gauteng, in die rigting van die geld,” sê Naidoo.

Terwyl die res van Suid-Afrika – die 30ste droogste land ter wêreld – groter waternood het, gebruik Gautengers 320 liter per persoon per dag.

“En dit is eenvoudig net onaanvaarbaar,” sê Naidoo.

Drinkbare water word gebruik om mee af te koel, toilette te spoel en tuine nat te maak. Daarbenewens raak dit vir langer tydperke al hoe warmer. Klimaatsverandering is ’n werklikheid waarvan daar nie weggeskram kan word nie, sê Naidoo. Water in opgaardamme verdamp en dit reën heelwat minder, terwyl die bevolking aanhou groei.

Dhesigen Naidoo, uitvoerende hoof van die WNK. Foto: Deaan Vivier

’n Emmer ’n dag verander jou gedrag

Die eerste wal wat gegooi word is om mense so ver te kry om water doeltreffend te gebruik. Naidoo sê ’n doelbewuste besluit om positief op te tree is die geheim tot waterbesparing.

“Ons het nie genoeg verskonings dat ons nie die regte ding kan doen nie,” sê Naidoo.

As jy ’n emmer saam met jou in die stort sit elke oggend om die water weer elders te gebruik, het dit ’n sneeubaleffek op die res van jou dag. Jy begin dink hoe lank jy ’n kraan oop los, wat van die water word en hoe om dit terug te kry.

Dit is die korttermynplan, terwyl daar ook gekyk word na verligting vir droogtegeteisterde gebiede.

Die WNK het hiervoor kers opgesteek by die natuur om water te onttrek uit die sand en om doudruppels op te vang (soos die Namib-besie maak). Navorsingsprojekte in die Oos-Kaap het bevind dié water is genoeg om aan die onmiddellike behoeftes van mens en dier te voorsien.

Langtermynplanne is ook nodig, maar dit verg álmal se samewerking én ’n bietjie innovering.

“Dit help nie ons sit agteroor en wag vir die regering nie. In elk geval, met nuwe tegnologie is daar groot potensiaal vir privatisering,” sê Naidoo.

Dhesigen Naidoo, uitvoerende hoof van die WNK Foto: Deaan Vivier

Moenie die baba met die badwater uitgooi nie

As ’n statutêre liggaam is die WNK een van die sleutelrolspelers in die departement van water en sanitasie se meesterwaterplan wat volgens Sisulu later die maand uitgereik word.

Naidoo is ’n groot voorstander van waterherwinning met behulp van slim tegnologie en sy raad aan die minister is om verouderde tegnologie af te skaf: Dit help nie om bloot nuwe damme te bou nie.

“Tegnologie is al so gevorderd dat tot 90% van water herwin kan word. Waar dié tegnologie in werking is, kan water soveel as sewe keer oorgebruik word.”

Omdat daar nuwe maniere van besoedeling is (byvoorbeeld farmaseutiese middels en mikroplastiek), moet daar nuut gekyk word na afvalwater en hoe om dit nie verlore te laat gaan nie.

Tegnologie is al so gevorderd dat tot 90% van water herwin kan word.

Hy praat van die afval-sanitasie-riool-revolusie.

Tans spoel mense hul afval met drinkbare water in die toilet af. As water éérste vir mense se basiese behoeftes gebruik word, kan dit daarna in vlakke herwin word en dan as’t ware oor en oor gebruik word voordat dit uiteindelik gesuiwer en terug na die riviere en damme gestuur word. Boonop kan die afvalwater ook herwin word in biobakstene en -diesel, metaangas en kos vir swerfmiere waarvan die larwes gemaal word en in vismeel gebruik word.

“En wat as ons kyk na suur mynwater? Wat as mens dit sien as gebergde water?”

Met nuwe tegnologie kan dié water ook benut word, sê Naidoo. Studies is gedoen waar suurmynwater deur veengrond filtreer is totdat dit weer bruikbaar is.

Herwinning kan ook ’n positiewe bydrae tot die land se energiekrisis maak. Die Tshwane-metroraad het reeds onderneem om nuwe reservoirs só te installeer dat dit hidrokrag opwek.

Dhesigen Naidoo, uitvoerende hoof van die WNK. Foto: Deaan Vivier

Van volstruiseiers tot vandag

Sedert die tyd van die Khoi-San is daar innoverend te werk gegaan met water.

“Hulle het lank voor ander daaraan gedink om water in ’n volstruiseierdop te berg,” sê Naidoo.

Jare later was Suid-Afrika een van die eerste lande om ’n waternetwerkstelsel te bou wat gesofistikeerd genoeg is om water oor lang afstande tussen verskillende opvangsgebiede te skuif.

“Nou, in die 21ste eeu, moet ons sorg dat ons aan die voorpunt bly van nuwe tegnologie, want dit is wat dit gaan verg om te oorleef,” sê Naidoo.

Hy sê Suid-Afrika is steeds een van die top-20-lande wanneer dit by navorsing en die ontwikkeling van nuwe waterbesparingstegnologie kom wat droogtes en klimaatsverandering kan oorkom.

Meer oor:  Pretoria  |  Droogte  |  Water  |  Waternood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.