Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Water in dele van Pretoria beperk

Randwater het Dinsdag watertoevoer na dele van Pretoria begin beperk weens dalende watervlakke by die reservoirs.

Abel Tau, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste by die Tshwane-metro, sê Randwater het watertoevoer met 30% tot 50% beperk.

“Die watervlakke by die reservoirs by Magalies en Suiderberg het weens hoë waterverbruik aansienlik gedaal. Verbruikers in die metro gebruik nie water spaarsamig nie en dit is weens hierdie gedrag dat streng waterbeperkings nou in sekere dele van Tshwane ingestel word,” sê Tau.

Die areas waarvan die water Dinsdag beperk is, is Capital Park, Daspoort, Eloffsdal, Gezina, Les Marais, Mayville, Mountain View, Park Town Estate, Rietfontein, Roseville, Transpark, Villieria, Wonderboom, Wonderboom-Suid, Kopkrap, Lady Selbourne uitbreiding 1, Pretoria-Noord, Suiderberg en Zandfontein.

Tau het inwoners in dié areas gemaan om minder water te verbruik. “Die beperkings sal tot lae waterdruk lei. Die situasie behoort hopelik weer na normaal terug te keer. Die hittegolf in Gauteng het ook die vraag na water verhoog,” sê Tau.

“Ons doen ’n beroep op inwoners en sakeondernemings om hul waterverbruik te verminder sodat water binnekort weer aan almal verskaf kan word.”

Tau kon nie met sekerheid sê wanneer die kapasiteit by die betrokke reservoirs weer na normaal sal terugkeer nie.

Hy het inwoners versoek om gedurende die waterbeperkings die volgende riglyne te volg:

• Moenie tuine natlei voordat die watervlakke herstel het nie.

• Plant inheemse of droogtebestande struike in die tuin.

• Gebruik ’n besem in plaas van ’n tuinslang om opritte of patio’s skoon te maak.

• Rapporteer waterlekkasies en gebarste pype.

• Installeer toestelle wat water bespaar.

• Installeer waar moontlik ’n stortvloei-stortkop.

• Versamel reënwater om weer in die tuin te gebruik of om die motor te was.

• Bedek die swembad om verdamping te verminder.

• Neem ’n vinnige stort eerder as ’n bad.

• Maak ’n lopende kraan toe terwyl jy tande borsel of skeer.

• Gaan gereeld toilette en krane na vir enige lekkasies.

Meer oor:  Abel Tau  |  Pretoria  |  Waterperke  |  Randwater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.