Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Water vlieg van die winkelrakke in O’hoorn

Die vraag na gebottelde water in die droogtegeteisterde Oudtshoorn het baie toegeneem.

Oudtshoorn se stadsraad het die dorp verlede maand as ’n droogterampgebied verklaar.

Rudi Oberholzer van Hartskos Deli & Oasis Water besig om ’n plastiekhouer vol water te tap. Foto: Jackie Kruger

Dinsdag was die Raubenheimerdam 31,54% vol. Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit was die gemiddelde waterverbruik in die dorp verlede week 9,76 megaliter water per dag.

Dinsdag by navraag het minstens 30 inwoners in Oudtshoorn se middedorp laat blyk dat hulle tans gebottelde water aankoop.

Die Raubenheimerdam buite Oudtshoorn Dinsdag. Foto: Jackie Kruger

“Ons waterverkope is baie goed,” sê Rudi Oberholzer van Hartskos Deli & Oasis Water wat aan Le Roux en Marelize van Dyk behoort. Talle mense het Dinsdagoggend vroeg water kom koop by die onderneming in die Checkers-sentrum. “Ons kliënte sluit skole, sakeondernemings, dokterspraktyke en gastehuise in. Sommige mense koop water in grootmaat of hulle bring hul eie houers.”

Volgens Oberholzer is hul water skoon en veilig. Dit word deur ’n deeglike osmoseproses gesit en omgewingsvriendelike verpakking word gebruik.

Hy sê hulle vervaardig ook ys. Soms gebruik mense Oudtshoorn se kraanwater om ys te maak wat veroorsaak dat partikels in die ys voorkom. “Ons ys is skoon.” Volgens hom het wateroutomate se gewildheid ook toegeneem.

Mathilda Jumar en Yolandie Jumar, twee inwoners van die woonbuurt Bridgton in Oudtshoorn, sê hulle bespaar water deur hul skottelgoed in ’n skottel water te was. “Ons gebruik dit en badwater vir die tuin.”

Lee-Ann van Sittert van die dierewelsynsorganisasie ACT SA – The Cat Hotel in Oudtshoorn, sê sy gebruik water in haar groot plastiekswembad om onder meer komberse en vloere te was. “Ons gebruik net kraanwater vir drinkwater.”

Sportvelde en -terreine soos die Oudtshoorn-gholfklub word slegs met gryswater besproei. Foto: Jackie Kruger

Talle inwoners is “ ’n bietjie senuweeagtig oor die watersituasie”.

Hulle doen wat die munisipaliteit vra en spuit nie tuine nat nie en draai die krane styf toe. Gryswater blyk nog ’n nuutjie te wees vir sommiges. “Nie almal gaan groen nie, want dit is duur,” sê van hulle.

Mathilda Jumar (links) en Yolandie Jumar van Bridgton in Oudtshoorn bespaar water deur skottelgoed in ’n skottel water te was en badwater vir die tuin te gebruik. Foto: Jackie Kruger
’n Kat lê op ’n kombers wat gewas is met water uit ’n plastiekswembad by die dierewelsynsorganisasie ACT SA – The Cat Hotel in Oudtshoorn. Foto: Lee-Ann van Sittert

Die Oudtshoorn-munisipaliteit het vroeër gesê drastiese maatreëls word ingestel omdat die dorp se waterbronne onder druk is met weersomstandighede wat ’n veranderde neiging toon. Die maatreëls hou egter groot koste in.

Om boorgate wat reeds geboor is met pompe, elektrisiteit en dies meer toe te rus en om ’n pyplyn vanaf Blossoms tussen George en Oudtshoorn aan te lê, beloop ongeveer R25 miljoen. Finansiële hulp is aangevra van die provinsiale en nasionale regering. Slegs gryswater word vir die natlei van sportvelde, middelmannetjies en munisipale grasperke gebruik.

Meer oor:  Raubenheimerdam  |  Rudi Oberholzer  |  Oudtshoorn  |  Water  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.