Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Waternood: Limpopo se inwoners maak self planne

Mense in Limpopo sal hul denkwyse oor watergebruik dringend moet verander, want die huidige waternood gaan nie gou verbeter nie.

Só sê Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit en ’n boervrou van Vaalwater in Limpopo.

Modimolle het reeds meer as ’n jaar beurtwater waar woonbuurte net sekere tye van die dag vir ’n bepaalde tyd munisipale water het.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, by inwoners van Phagameng buite die dorp waar twee watertenks opgerig is.

Boorgate moes ook al gesink word om water aan inwoners te verskaf omdat die Donkerpoortdam buite Modimolle kritiek laag is. Die munisipaliteit het ook watertenks in Phagameng, ’n woonbuurt buite Modimolle, opgerig.

Van Staden sê sy raai mense, wat dit kan bekostig, aan om ook tenks te kry waarin water gestoor kan word, sodat mense self hul waterverbruik kan bestuur.

“Almal in die land sal móét leer om spaarsamig met water te werk. Temperature styg elke jaar en die verdamping uit die damme, wat reeds gevaarlik leeg is, gebeur vinniger as vroeër.”

Lowergroen tuine met palmbome is nou taboe, sê Van Staden. “Beplan ’n tuin wat waterwys is. Plant vetplante of kry kunsgras.”

Die Doorndraaidam buite Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo is een van die damme wat bykans dolleeg is.

Dolleë damme

Luidens die jongste statistiek van die departement van waterwese is Limpopo se damme vandeesweek 49,9% vol.

Die jongste meting stel die Doorndraaidam se vlak op agt persent.

Die damme wat bykans dolleeg is, is die Tzaneendam (6,3%) en die Doorndraaidam (8,5%) buite Mokopane (Potgietersrus).

Korny Dekker, DA-raadslid en inwoner van Mokopane, sê die dorp “beleef ’n waterkrisis.”

“Ons maak nou grootliks staat op water van boorgate. Mense besef gelukkig ons het reuse probleme.”

Dekker beplan om gesentraliseerde waterpunte in Mokopane te begin waar mense water kan kry.

Die toevoer van munisipale water word ook gereeld toegedraai sodat reservoir-vlakke opgebou kan word.

Meeste inwoners in die dorp en in die nabygeleë Mookgophong (Naboomspruit) maak al vir jare staat op tenks waarin water gestoor word.

’n Watertenkwa van die Polokwane-munisipaliteit in ’n woonkompleks in Bendor wat gereeld watertekorte ervaar.Foto: Rudzani Tshikororo

Polokwane wurg ook

In Polokwane, die hoofstad van Limpopo, vererger inwoners se waterprobleme elke jaar. Daar is vanjaar elke week watertekorte weens “tegniese probleme,” volgens die Polokwane-munisipaliteit.

Die stad kry water van die Ebenezer-dam, (36%), die kleiner Dap Naudé-dam (80%) en van die Olifantspoort-wateraanleg, wat deur die Lepelle Northern Water-raad bestuur word.

Johan de Lange, ’n inwoner van Polokwane, het soos baie ander inwoners van die stad ’n JoJo-watertenk aangeskaf om water in op te gaar.Foto: Rudzani Tshikororo

Die Polokwane-munisipaliteit het verlede week dringende samesprekings met Lepelle Northern Water gehad oor die probleme. Frank Haas en Franco Marx, DA-raadslede, het ook die vergadering bygewoon.

Haas en Marx is dit eens dat daar nie genoeg water is om aan Polokwane, wat teen ’n snelle pas uitbrei, te verskaf nie.

Boonop dra swak instandhoudingswerk by tot waterpype wat in die stad bars.

Al hoe meer inwoners van die stad skaf watertenks en pompe aan vir gebruik in hul huise.

Joanne Honiball, eienaar van die Woofels-troeteldierwinkel in Johnsonstraat, sê sy moes noodgedwonge JoJo-tenks koop om water in te stoor sodat troeteldiere gebad kan word.

“Dis nag, dis totale chaos. Ons het die afgelope drie dae nie water nie. Verlede jaar was daar ’n tydperk wat ons twee weke sonder ’n druppel water was.”

Volgens haar is nóg ’n probleem die watertenkwaens van die munisipaliteit wat nie gereeld beskikbaar is nie.

“Dit is onnodige onkoste wat ek moes aangaan om die watertenks te koop, net vir my onderneming om te kan oorleef,” sê Honiball.

Hoërliggende woonbuurte wat Bendor, Welgelegen, Sterpark en Seshego insluit word veral deur die watertekorte geraak. Inwoners van Seshego het Maandag, toe die kwik by die 37 grade in die stad gedraai het, ’n optog na Thembi Nkadimeng, burgemeester se kantoor, gehad om ’n griefskrif te oorhandig. Sy was nie daar om dit te ontvang nie.

Nkadimeng het in 2014 toe sy by Freddy Greaver, destydse burgemeester, die leisels oorgeneem het, ’n moratorium wat daar was op ontwikkelings in die stad opgehef. Greaver het die moratorium juis ingestel omdat daar toe al nie genoegsame water vir die stad was nie.

Yl grassies sonder werklike voedingswaarde is al wat oor is vir die beeste op ’n plaas buite Polokwane.Foto: Rudzani Tshikororo

Dorstige betogers

Woede oor watertekorte kook ook oor in ander dele van Limpopo en mense betoog daaroor.

Munisipale werkers in Thabazimbi in Limpopo werk aan ’n gebreekte waterpyp. Foto: Facebook/Thabazimbi Belastingbetalersvereniging

Inwoners van Lenyenye, buite Tzaneen, het Dinsdag ’n pad buite die dorp met brandende buitebande, boomstompe en groot klippe versper omdat hulle nie water het nie.

Daar was sowat twee weke gelede ook betogings in Tshikota, ’n woonbuurt buite Louis Trichardt, omdat inwoners al vir jare gebrekkige watertoevoer het. Die polisie moet elke keer ontplooi word om oproeriges in toom te hou.

In Louis Trichardt is inwoners ook moedeloos oor watertekorte weens swak instandhouding. Dié dorp kry water van die Albasini-dam (64%) af.

In die dorre Giyani-gebied in die Mopani-distrik voer bestaansboere ’n sukkelbestaan sonder water. Beeste, bokke en gewasse soos mielies vrek.

Voerhulp nodig

Boere in veral die westelike streek van die Limpopo-bosveld bid vir reën omdat dié streek in ’n droogtewurggreep is.

Beeste vrek in die dorre Baltimore-, Marnitz en Lephalale (Ellisras)-gebied.

Munisipale werkers in Thabazimbi in Limpopo werk aan ’n gebreekte waterpyp.Foto: Facebook/Thabazimbi belastingbetalersvereniging

Die Boere in Nood-groep, ’n organisasie sonder winsbejag, doen ’n beroep op die publiek en boere in die res van die land om voer na dié gebiede in Limpopo te stuur.

Dit is ook baie droog in die Alldays-, Dendron en Vivo-gebied in Limpopo. Boere moet hul diere al ’n geruime tyd voer.

Die Mokolodam buite Lephalale is 61% vol, maar die versengende temperature wat Maandag tot diep in die 40 grade gestyg het, laat water vinnig verdamp.

Inwoners van Thabazimbi sê voortslepende waterprobleme word nou vererger omdat verskeie boorgate begin opdroog.

Tokkie Swanepoel van die Thabazimbi Belastingbetalersvereniging het vandeesweek weer ’n beroep op inwoners gedoen om water spaarsamig te gebruik. “Asseblief gee julle samewerking, die damvlakke daal vinnig en boorgate droog op omdat die ondergrondse watertafel daal,” het sy Woensdag gesê.

Limpopo het in Julie R10 miljoen droogtehulp van die nasionale regering gekry. Dié geld moet egter tussen die Vhembe-, Capricorn-, Sekhukhune-, Waterberg- en Mopani-distrik verdeel word.

Die provinsiale departement van landbou kon nie vir kommentaar bereik word oor wat hulle planne behels om boere te help nie.

Grafika24
Beeste buite Polokwane word gevoer omdat daar geen weiding vir hulle is nie. Foto: Rudzani Tshikororo
Meer oor:  Limpopo  |  Waterkrisis  |  Waternood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.