Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Ysberg se water glo goedkoper as ontsoute seewater
(iStock)

Owerhede in Kaapstad sê hulle sal kyk na die voorstel om ’n ysberg na Kaapstad te sleep om die stad met sy waternood te help, maar wil eers ’n volledige voorlegging sien oor hoeveel dit sal kos.

Die ysbergprojek sal $130 miljoen kos en het nou amptelik ’n belegger gekry.

Nick Sloane, Suid-Afrikaanse marieneherwinningskenner wat die projek bestuur, het gesê noudat hy ’n belegger het, sal hy ’n getekende ooreenkoms teen 30 Junie benodig waarin die owerhede onderneem om die ysberg se water te koop.

Dit sal die belegging en die projek aan die gang sit.

Hy sal die ysberg in die suide van die wêreld moet gaan “haal” en dit na Suid-Afrika toe sleep.

“Die moeilikheid is dat niemand hul politieke loopbaan op die spel wil plaas deur ja te sê vir ’n ysberg nie.”

Owerhede het egter gesê hulle sal kyk na die voorlegging.

Hulle wil spesifiek weet wat die ysberg se water gaan kos.

Sloane het aan News24 gesê die water sal na raming tussen R28 en R35 ’n kiloliter kos of tussen 2,8 en 3,5 sent per liter.

Hy het gesê dit sal minder kos as water van ’n korttermyn waterontsoutingsprojek wat tussen R52 en R57 per kiloliter sal uitwerk.

“As ons ’n ysberg wat 80 miljoen ton weeg na Suid-Afrika kan bring en 70% daarvan bruikbaar is, dan sal ons 150 miljoen liter water per dag vir ’n volle jaar kan verskaf,” het hy gesê.

Sloane het verlede week ’n vergadering gehou met wetenskaplikes, ingenieurs, akademici en regeringsamptenare om die voorlegging aan hulle te verduidelik. Daar was Dinsdag ’n opvolgvergadering.

Peter Flower, hoof van water en sanitasie in Kaapstad, het by navraag gesê die stad wil nie oor die kwessie bespiegel nie en die feit dat daar ’n belegger is, is nie ’n sleutelfaktor nie.

“ ’n Mens sal na verskeie komponente moet kyk, soos finale bedryfskoste van die water, asook na sake wat verband hou met plaaslike waterverskaffing,” het Flower gesê.

Rashid Khan, hoof van die nasionale departement van water en sanitasie in die Wes-Kaap, het gesê die departement sal na Sloane se voorlegging kyk indien hy ’n voorlegging oor die koste na Stad Kaapstad en die nasionale departement toe stuur.

Meer oor:  Nick Sloane  |  Waternood  |  Ontsouting  |  Droogte  |  Ysberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.