Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Eer danksy goeie atlete, sê Prinsloo
Kovsie-man aangewys as afrigter van 2013
DB Prinsloo (53), Kovsies se direkteur van sport, wat vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Atletiekstatistici (Saas) as die afrigter van 2013 aangewys is. Foto: Mlungisi Louw
DB Prinsloo (53), Kovsies se direkteur van sport, wat vanjaar deur die Suid-Afrikaanse atletiekstatici (Saas) as die afrigter van 2013 aangewys is. Foto: Mlungisi Louw

GEDULD . . .

Dit is die stempel wat DB Prinsloo (53), Kovsies se direkteur van sport, graag deur sy atletiekafrigting wil afdruk.

“Ons gee so maklik op wanneer ons misluk X ons moet vasbyt,” sê hy.

Hy is vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Atletiekstatistici (Saas) as die afrigter van 2013 aangewys en Vrydagaand op ’n dinee in Potchefstroom vereer.

Hy meen egter die prestasie sou nie sonder die vertoning van sy atlete moontlik wees nie.

“Ek kan nie goed afrig as ek nie goeie atlete het nie. As jy nie ’n gewillige produk het nie, kan jy daarvan vergeet om goed te doen.”

Prinsloo is tans die afrigter van Bloemfontein se ster-atleet, Johan Cronjé, wat deur Saas as Suid-Afrika se beste mansatleet van 2013 aangewys is. Prinsloo meen sý toekenning is grootliks te danke aan Cronjé se besondere prestasies.

Afgesien van Cronjé het talle van Prinsloo se ander atlete ook al medaljes op nasionale kampioenskapsbyeenkomste verower.

Hy het ’n hele paar atlete gebrei wat die Groen en Goud oor die kop getrek het. Boonop is vier van die voorste tien atlete van alle tye op die junior ranglys van sy huidige of voormalige atlete. Dié sluit Cronjé, Dumisane Hlaselo, Francois Pretorius en Windy Jonas in.

Prinsloo sê om suksesvol te wees moet sowel afrigter as atleet bereid wees om baie ure se harde werk in te sit.

“ ’n Mens kry niks standhoudend as jy nie hard werk nie.”

Hy lees, ontleed en bestudeer voortdurend al die topafrigters se navorsing om voor te bly.

“Oor die jare leer jy uit jou foute en wat om nie weer te herhaal nie.”

Hy is self ’n kranige atleet en was in 1984 Suid-Afrika se se­nior 3000 m-hinderniskampioen.

Volgens hom is dit nie ’n voorvereiste vir ’n afrigter om self puik op die atletiekbaan te vaar nie, maar hy meen dit is wel voordelig.

Wanneer sy atlete aan byeenkomste deelneem, is dit vir hom byna net so uitputtend soos vir hulle.

“Jy is so ingestel op jou atlete se vertoning en dit is ook spanningsvol.

“Die atleet kan hom- of haarself help, maar jy het geen beheer oor wat gaan gebeur nie. Jy bly maar net hoop.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.