Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Eskom moet ontslae raak van 1 081 wit ingenieurs
81,2%van Eskom se totale werkmag is reeds nie wit nie.

Eskom moet sy getal wit ingenieurs met 1 081 verminder en sy wit ambagslui met 2 179 minder maak om aan streng nuwe vereistes van die Wet op Billike Indiensneming te voldoen.

Dit is die gevolg van voorskrifte wat die departement van arbeid aan Eskom opdwing en wat eis dat Eskom, wat verreweg die verste gevorder het met regstellende aksie van alle staatsinstellings, jaarliks genoeg daarmee vorder sodat dié twee sleutel-poskategorieë teen einde Maart 2020 ten volle “die nasionale en streekdemografie van die land” sal weerspieël.

In die poskategorie vir professionele werknemers en middelvlakbestuurders – wat in Eskom se werkmag op ingenieurs neerkom – is daar op die oomblik 6 530 mense, van wie 1 786, of 30%, wit is. Dit moet met 1 081 verminder tot net 705 om aan die voorskrifte van die departement van arbeid te voldoen.

In dié poskategorie is 70,6% van Eskom se totale werkmag reeds nie wit nie en is 34,9% vroulik.

Van die 21 372 tegnies vaardige werknemers in Eskom is 4 487, of 21%, wit. Hulle moet teen 2020 met 2 179 verminder word om by ’n nasionaal verteenwoordigende groep van 2 308 uit te kom.

Die twee beroepsgroepe – ingenieurs en ambagslui – is die groepe waarin Eskom die meeste van sy vaardigheidstekorte ondervind, maar in Eskom as ’n geheel moet hy sy wit werkmag met 44,3%, of 3 389 mense, verminder.

Die voorskrifte word uiteengesit in dokumente wat sedert Desember verlede jaar aan die drie vakbonde in Eskom – die NUM, Numsa en Solidariteit – voorgelê is vir konsultasies om Eskom se huidige plan vir regstellende aksie te vervang.

Eskom se vorige plan vir regstellende aksie verval einde Maart. Hy moet teen einde April nuwe planne vir regstellende aksie – met nuwe teikens vir regstellende aksie daarin – by die departement van arbeid indien.

Die teikens word bepaal deur die getal wit werknemers in ’n sekere poskategorie, wat meer is as die ekonomies aktiewe bevolking, in vyf te verdeel. Dit is dan ’n jaarlikse teiken wat in die volgende vyf jaar elke jaar behaal moet word.

Niemand sal sy werk verloor weens sy velkleur nie.

Die klem op numeriese teikens spruit uit voorskrifte wat Thobile Lamati, direkteur-generaal van arbeid, vir Eskom gemaak het. Lamati het op 2 Desember verlede jaar by Thediso Matona, uitvoerende hoof van Eskom, gekla dat regstellendeaksieplanne wat Eskom ingedien het nie numeriese teikens bevat nie – net persentasies.

“In die ontwikkeling van numeriese doelwitte en jaarlikse teikens moet die nasionale en streekdemografie van die ekonomies aktiewe bevolking gebruik word,” lui Lamati se brief aan Matona.

Dis geskryf ’n dag nadat ­Lamati as direkteur-generaal aangestel is. Sy brief bevat fyn besonderhede oor hoe planne vir regstellende aksie moet lyk. Dit word volledig nagevolg in die voorstel wat Eskom kort daarna aan vakbonde voorgelê het.

Die voorstelle maak voorsiening daarvoor dat merietebeoordeling van bestuurders van sake-eenhede in die volgende vyf jaar bepaal sal word deur die getal swart, bruin en Indiër-ingenieurs en -tegnici wat hulle in hierdie poste aanstel.

Die bestuurders van sake-eenhede is in Eskom meestal die bestuurders van sy kragsentrales.

Die konsultasies met vakbonde word op die oomblik op die vlak van kragsentrales gevoer met verteenwoordigers van die drie vakbonde wat Eskom se werkmag verteenwoordig: die National Union of Mineworkers (NUM), die National Union of Metalworkers (Numsa) en Solidariteit.

Khulu Phasiwe, amptelike woordvoerder van Eskom, het die egtheid van die dokumente gister bevestig, maar gesê dis nog nie Eskom se amptelike standpunt nie.

“Dis gespreksdokumente wat waarskynlik nog sal verander. Ja, ons moet uiteindelik die demografie verteenwoordig, maar Eskom is in die moeilikheid en ons gaan beslis nie nou ontslae raak van mense wat van deurslaggewende belang is vir ons onderhoudswerk nie,” het Phasiwe gesê.

“Niemand sal sy werk verloor weens sy velkleur nie.”

Dirk Groenewald, Eskom-verteenwoordiger van Solidariteit, sê Eskom se onderhandelaars wat in die konsultasies vir kragsentrales gebruik word, gebruik die dokument as rede om aan te voer dat ander oorwegings soos die beskikbare poel kandidate vir sekere poste nie oorweeg kan word om die numeriese teikens te bepaal nie.

’n Topamptenaar in Eskom wat twee jaar gelede reeds aan Rapport gesê het ’n kernprobleem by Eskom is dat hy te vinnig getransformeer het, het gister gesê nuwe planne vir regstellende aksie moet eenvoudig met groot omsigtigheid hanteer word.

“Ons is gedwing om koste te bespaar en onder meer na personeelverminderings te kyk.

“Dit sal rampspoedig wees as ons regstellende-aksieteiken nou daarop uitloop dat ons mense vervreem wie se vaardighede ons nodig het,” het die bron, wat nie geïdentifiseer kan word nie, gesê.

■ Lees ook ​Rapport sê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.