Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Eskom-probleme knel munisipaliteite
Dit is veral in die metro’s kommerwekkend.

Kaapstad. – Kommer is uitgespreek oor munisipaliteite, wat nou ook die knyp voel van probleme by Eskom en die uitkring­effek na verbruikers.

Die kwartaalsyfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdag vir die tydperk tussen Desember 2014 en Maart 2015 bekend gemaak het, toon dat munisipaliteite in dié tydperk minder grootmaatkrag aangekoop en aan verbruikers verkoop het.

Joe de Beer, direkteur-generaal van ekonomiese statistieke van die SSA, het by navraag gesê daar is gewoonlik ’n verandering in die verbruikspatrone in die winter- en somermaande, maar daar is beslis aanduidings dat munisipaliteite swaarkry weens die wisselvallige kragaanbod van Eskom.

“Daar is munisipaliteite waarvan kragverkope die hoofinkomstebron is en wanneer die aanbod onbestendig is, raak dit hul geldsake.

“Dit is veral in die metro’s kommerwekkend, want al ‘spaar’ munisipaliteite met minder kragaankope, is daar ook ’n verlies aan inkomste weens ’n afname in verkope.”

Volgens De Beer begin verbruikers, veral die vervaardigingsektor, toenemend alternatiewe kragbronne gebruik, wat ook munisipaliteite se verkope laat krimp.

Prof. Raymond Parsons, ’n ekonoom van die Noordwes-Universiteit, het in ’n voorlegging oor Eskom se voorgestelde tariefverhogings ook daarna verwys en gesê kragverbruik is op dieselfde lae vlak wat dit ’n dekade gelede was.

Lees ook:

■ ​‘Kos sou baie duur word’

■ ​Mislukte Eskom-aansoek: ‘Geen rede waarom beurtkrag moet toeneem’

■ ​Nersa sê nee vir Eskom

Parsons het selfs gewaarsku dat Eskom in verdere finansiële moeilikheid kan beland indien nog meer mense alternatiewe kragbronne gebruik.

Volgens Karen Heese, ’n navorser van Municipal IQ, is die situasie kommerwekkend omdat talle munisipaliteite reeds geldelik onder druk is.

Sy het verwys na munisipaliteite soos Richardsbaai in KwaZulu-Natal wat nagenoeg 53% van sy inkomste uit kragverkope kry en Tlokwe in Noordwes se nagenoeg 52%.

“Daar is ’n uitkringeffek.

“Nywerhede, ondernemings en ryker verbruikers moet dan die armer huishoudings in sulke munisipaliteite help subsidieer.

“Al kry munisipaliteite wel toelae van die nasionale regering om basiese dienste te finansier, is daar steeds minder geld vir die instandhouding van die krag- en ander infrastruktuur omdat die hoofinkomstebron uit kragverkope minder is.

“Die situasie kan op lang termyn versleg.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.